Gordius, ook Gordias (antieke Grieks: Γορδίας) of Gordios (Γόρδιος), was die naam van minstens twee lede van die koningshuis van Frigië. Die een wat die bekendste is, was na bewering die stigter van die Frigiese hoofstad, Gordion, die maker van die beroemde Gordiaanse knoop en die pa van die legendariese koning Midas, wat alles waaraan hy geraak het in goud verander het. Die paar legendes oor dié Gordius en Midas dui daarop dat hulle iewers in die 2de millennium v.C. gelewe het.

Gordius (vader van Midas)

wysig
 
Alexander hak die Gordiaanse knoop deur (1767), deur Jean-François Godefroy.

In die stigtersmite van Gordion was die eerste Gordius ’n arm boer van Masedonië wat die laaste afstammeling van die koninklike familie Brigi was. Toe ’n arend op die paal van sy oskar gaan sit, het hy dit vertolk as dat hy eendag ’n koning sal wees. Die arend het nie beweeg terwyl hy met sy kar na die orakel van Sabazios[1] in die kultussentrum Telmissus gery het nie. By die stad se poorte het hy ’n vroulike siener teengekom wat hom aangeraai het om offerandes aan Zeus/Sabazios te maak. Sy het gesê sy sal saam met hom gaan om seker te maak hy kies die regte offerandes. Net daar het Gordius haar om haar hand gevra.[2]

Intussen het die Frigiërs, wat skielik sonder ’n koning was, die orakel geraadpleeg en dié het aan hulle gesê om die eerste man wat in ’n kar na die tempel aangery kom, as koning te kies. Dit was die boer Gordius, wat saam met die siener gery het.

Gordius het die stad Gordion gestig en dit het die Frigiese hoofstad geword. Dié stigtersmite regverdig Gordion se opvolging van Telmessos as die kultussentrum van Frigië. Die juk van Gordius se kar was met ’n ingewikkelde knoop vasgemaak wat die Gordiaanse knoop genoem word. Volgens die legende van Gordion, wat deur Alexander die Grote se volgelinge versprei is,[3] sou enigiemand wat die knoop kon losmaak heerser van Asië word (wat in dié tyd as Anatolië beskou is). Alexander het egter die knoop in 333 v.C. met sy swaard deurgekap.

Volgens Arrianus het Midas, Gordius se seun, koning geword eerder as sy pa.[4]

In sommige weergawes van die legende het Gordius en die Frigiese godin Kubele Midas aangeneem. In ander weergawes was Midas hulle seun. Herodotos sê Midas was Gordius se seun en noem nie Kubele se naam nie. Hy sê ook Gordius se seun Midas het ’n tuin in Masedonië gehad, wat daarop dui dat Herodotos geglo het Gordius het gelewe voor die legendariese migrasie van Frigiërs na Anatolië.[5]

Gordius (Herodotos)

wysig

’n Ander lid van die Frigiese koninklike lyn met die naam Gordius was ’n tydgenoot van Croesus van Lidië, volgens Herodotos. Sy seun Adrastus het per ongeluk sy eie broer doodgemaak en na Lidië gevlug waar Croesus hom asiel gegee het. Die Frigiërs was in dié tyd onderdane van Lidië. Dié Gordius was die seun van ’n ander Midas. Herodotos noem nie of dié Gordius nog gelewe het toe Adrastus gevlug het nie, en of dié Gordius of sy pa, Midas, ooit as vasalkonings regeer het nie.[6] Andersins is dié Gordius en Midas onbekend.

Sommige historici glo Herodotos het ook Gordius as die pa van ’n ander Midas genoem wat in die laat 8ste eeu v.C. oor Frigië regeer het.[7] Herodotos skryf ’n "Midas, seun van Gordius", het ’n troon aan die orakel van Delphi geskenk. Die Midas van die laat 8ste eeu v.C. het ’n Griekse vrou en sterk bande met die Grieke gehad; dit dui daarop dat hy die skenking kon gedoen het. Herodotos sê egter Guges van Lidië, ’n tydgenoot van dié Midas, was "die eerste buitelander sedert Midas" wat ’n offerande by Delphi gedoen het, wat beteken Herodotos het geglo die meer antieke Midas het die troon geskenk.

Verwysings

wysig
  1. Sabazius is deur die Grieke met Zeus verbind.
  2. Robert Graves, The Greek Myths 1955, §83d.
  3. Arrianus, Anabasis of Alexander, ii.3.
  4. Arrianus, Alexandri Anabasis, B.3.4–6
  5. Herodotus VIII.136.
  6. Herodotus I.35.
  7. Encyclopædia Britannica, notas vir Penguin-uitgawe van Herodotos.

Skakels

wysig