Gaan na inhoud

Vernon Koekemoer

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Oorspronklike foto geneem in 2008 wat gebruik is in die meem.

Vernon Koekemoer (gebore Jacob Christiaan (Cassie) Booyse; 9 September 1956 - 14 Augustus 2024)[1] het in 2008 oornag internetroem verwerf toe iemand hom by 'n musiekfees afgeneem het, hom Vernon Koekemoer gedoop het en die foto daarna 'n meem op die internet geword het. Hy was aanvanklik 'n liggaamsbouer en met sy unieke sin vir mode sowel as 'n mopkophaarstyl, het hy baie aandag getrek. Duisende mense het die beroemde foto in ander foto’s ingelas en op die internet geplaas. Hy het so bekend geword dat hy in advertensies verskyn het, waaronder een vir Nando's saam met die Amerikaanse akteur Chuck Norris.[2] Toe hy in 2008 bekend geword het, was hy 'n tegniese skrywer wat vir die Suid-Afrikaanse Weermag gewerk het.[3] Booyse is op 14 Augustus 2024 oorlede na hy lank aan swak gesondheid gely het na onsuksesvolle heupvervangings.

Kontroversie

[wysig | wysig bron]

Sy bekendheid is ook beskryf as 'n tekenende voorbeeld van virale bemarking en die impak van die internet op die moderne kultuur. Volgens Booyse het dit alles begin toe hy by 'n bemarkingspartytjie vir 'n produk opgedaag het en 'n vrou hom genader het en 'n foto geneem het van hom met sy bekende vreemde drag en haarstyl.

Bryan Theunissen en Damian Armstrong beweer hulle is verantwoordelik vir die Vernon Koekemoer verskynsel. Koerante uit die Independent groep het blykbaar berig dat Theunissen, wat in die advertensie- en bemarkingswese werksaam is, Booyse herdoop het en sy foto as 'n eksperiment op die internet geplaas het. Armstrong is na berig word die persoon verantwoordelik vir die Facebookgroep Make Vernon Koekemoer famous. Presies hoe die menere met die dame wat deur Booyse genoem word verbind word, is onduidelik. Van die maatskappye wat Booyse vir hul bemarking gebruik het, ontken hul betrokkenheid by sy skielike bekendheid, maar daar bestaan vermoedens dat daar dalk wel 'n advertensie-agentskap agter die verskynsel skuil.[4] Ander beweer egter dat na die omstrede virale bemarkingstruuk vir die vierde idols seisoen, bekende groot maatskappye waarskynlik nie weer by so iets betrokke sal raak nie.[5]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Venter, Isabel (14 Augustus 2024). "Gewese spiertier Vernon Koekemoer sterf". Maroela Media.
  2. Michaels, Ross, Vernon Koekemoer se hel na die operasie, Rapport, 18 September 2022.
  3. http://www.zoopy.com/video/detail/id/8858/ Geargiveer 16 Junie 2008 op Wayback Machine Onderhoud met Vernon Koekemoer (oftewel Cassie Booyse) op Kwêla program no 405[1] Geargiveer 20 Februarie 2009 op Wayback Machine van 16 April 2008
  4. http://www.marketingweb.co.za/marketingweb/view/marketingweb/en/page71621?oid=103110&sn=Marketingweb%20detail
  5. http://marketing.bizcommunity.com/Article/196/12/17749.html

Bronne

[wysig | wysig bron]