Die Areopagos, of Areopagus, afgelei van Areios Pagos (Ἄρειος Πάγος) is die "Rots van Ares", noordwes van die Akropolis, wat in klassieke tye gedien het as die hoë appèlhof vir kriminele en siviele sake[1] in Athene. Ares sou hier, in 'n tipiese voorbeeld van 'n aetiologiese mite, deur die gode verhoor word vir die moord op Poseidon se seun Alirrothios.

Die Areopagos soos van die Akropolis gesien
Die inskrif op die plaket aan regterhand gedenk die apostel Paulus se Areopagosrede

Geskiedenis

wysig

Die oorsprong van die naam is onduidelik. In Grieks beteken pagos groot rots, maar Areios kon afgelei wees van Ares of van die Eriniërs,[2] aangesien 'n tempel gewy aan die Eriniërs aan die voet van die heuwel opgerig is, waar moordenaars by tye toevlug gevind het om van die gevolge van hul dade te ontkom. Later, het die Romeine na die rotsagtige heuwel verwys as "Marsheuwel", vernoem na Mars, die Romeinse god van oorlog.[3] Die basiliek van Dionysios Areopagites is ook naby die Areopagos opgerig.

In voorklassieke tye (voor die 5de eeu v.C.), was die Areopagos die raad van oues van die stad, soortgelyk aan die Romeinse Senaat. Soos die Senaat, was die lidmaatskap beperk tot diesulkes wat hoë publieke ampsdraers was, in hierdie geval archonte.[4] In 594 v.C. het die Areopagos ingestem om hul gesag aan Solon af te staan vir hervorming. Hy het demokratiese hervormings ingestel, die lidmaatskap gerekonstrueer alvorens selfbeheer aan die organisasie herstel is.[5]

In 462 v.C. het Ephialtes hervormings deurgevoer wat die Areopagos van bykans alle funksies onthef het behalwe dié van 'n moordtribunaal ten bate van die Heliaia.

In Die Eumenides van Aischulos (458 v.C.), was die Areopagos die verhoorplek van Orestes vir die moord op sy moeder (Klytaimnestra) en haar minnaar (Aigisthos).

Phryne, die hetaira van 4de eeuse (v.C.) Griekeland wat beroemd was om haar skoonheid, het voor die Areopagos verskyn op aanklag van skending van die Geheimenisse van Eleusis. Later is die legende waarskynlik gefabriseer waarvolgens sy haar mantel laat val het, en die regters tot so 'n mate met haar wonderskone figuur beïndruk het dat sy summier vrygespreek is.

In 'n ongewone verwikkeling, het die Areopagos 'n nuwe funksie verkry in die 4de eeu v.C., naamlik korrupsie-ondersoeke, alhoewel die vervolgingsbevoegdheid net vir die Ekklesia beskore was.

 
Akropolis van Athene, uitsig vanaf die Areopagosheuwel

Die Areopagos, soos meeste stadstaat-instellings, het in Romeinse tye steeds gefunksioneer, en dit was vanaf hierdie standplaas, en deur staat te maak op die potensiële belang van die Atheense altaar aan die Onbekende god, dat die Apostel Paulus sy beroemde toespraak gelewer het, "Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie." (kyk Handelinge 17:23-24)

Die term "Areopagos" verwys ook na die juridiese liggaam van aristokratiese oorsprong waaruit die appèlhof van moderne Griekeland baie later saamgestel sou word.

Moderne verwysings

wysig
  • Die Engelse digter John Milton het sy betoog vir die vryheid van die pers "Areopagitica" genoem, en aangevoer dat die sensors van antieke Athene, wat by die Areopagos gesetel was, nie die soort voorafgaande beperkings vir publikasie beoefen het, as dié wat deur die Engelse Parlement van Milton se tyd vereis is nie.
'n Naggesig op Athene soos van die Areopagosheuwel af gesien
'n Gesig op Athene (oordag) van die Areopagosheuwel af gesien

Verdere leesstof

wysig

Voetnotas

wysig
  1. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2007. Besoek op 26 September 2014.
  2. Moderne skrywers (C. Wachsmuth, Die Stadt Athen, 1. p. 428 nota 2; G. Gilbert, Griech. Staatsalterthiimer,2 1. p. 425 nota 4) het voorgestel dat Areopagos (Areios pagos) 'die heuwel van vervloeking' beteken, met die eerste deel van die naam afgelei van ara '‘n vloek', verwysend na die Furies wat 'n heiligdom teen die hang van die heuwel gehad het, en wat soms as die Arai, dit wil sê 'die vloeke' bekend was (Aischulos, Eumenides, 417)
  3. Bible.org
  4. Aristoteles, Grondwet van die Atheners §3
  5. "Ancient Greece:Athens". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Desember 2010. Besoek op 26 September 2014.

Eksterne skakels

wysig
  • Handelinge 17:16-34 'n Bybelse verslag van Paulus wat die aard van die Christengod met die Areopagos bespreek. In die verhaal word ook verwys na die altaar aan "Die Onbekende God." Kyk ook: Agnostici

37°58′20″N 23°43′25″O / 37.97222°N 23.72361°O / 37.97222; 23.72361