Gaan na inhoud

Aguri Suzuki

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Suzuki in 2008, as opsiener van die Autobacs Racing Team

Aguri Suzuki (鈴木 亜久里, Suzuki Aguri, gebore op 8 September 1960) is 'n Japannese voormalige renjaer. Hy het aan 88 Formule Een Grands Prix deelgeneem, sy beste resultaat was 'n derde plek by die Japannese Grand Prix in 1990. Hy het toe by spaneienaarskap betrokke geraak, met belange eerstens in die Japannese Formule Nippon-kampioenskap en die IRL in vennootskap met die Mexikaanse renjaer Adrian Fernandez. Hy was die eienaar van die Super Aguri F1-span, wat van 2006 tot 2008 aan Formule Een deelgeneem het. Daarna het hy Team Aguri gevorm, wat van 2014 tot 2016 in Formule E gejaag het.

Vroeë loopbaan

[wysig | wysig bron]

Suzuki het in 1972, op die ouderdom van 12, begin met knortjorre jaag. In 1978 het hy die Japannese kartkampioenskap gewen en in 1979 sy debuut in die Japannese Formule Drie-kampioenskap gemaak. Hy het voortgegaan in karting en was in 1981 weer Japannese kartkampioen. In 1983 het hy tweede geëindig in die All-Japan F3-reeks, met 'n Hayashi-Toyota. Hy het hom toe na toermotorrenne gewend en in 1986 vir die Nissan-fabriekspan die Japannese titel gewen. Dieselfde jaar het hy sy debuut in Japannese F2 gemaak en in die Le Mans 24 uur gejaag. In 1987 het hy as naaswenner in die Japannese F3000-reeks geëindig en een ren (Suzuka) gewen. In 1988 het hy met 'n March - Yamaha die titel gewen met drie oorwinnings (Fuji, Nishi-Nippon en Suzuka).

Formule Een-loopbaan

[wysig | wysig bron]
Suzuki demonstreer sy Larrousse - Lola 90 by Suzuka in 2012 - die toneel van sy podium-eindpunt 22 jaar vroeër.

In 1988 het Suzuki in die Europese F3000 vir Footwork gdeelgeneem, voordat hy op 30 Oktober by sy tuisren in Formule Een gedebuteer het. Zakspeed, wat Yamaha- enjins gebruik het, het Suzuki vir 1989 gehuur, maar hy kon nie in al 16 wedrenne vooraf kwalifiseer nie.

In 1992 en 1993 was hy by Footwork saam met Michele Alboreto en toe Derek Warwick, maar albei het gereeld beter as hy gevaar. Hy het in 1995 'n Ligier met Martin Brundle gedeel, maar het net een punt in sy wedrenne behaal, en is deur Mika Salo gekritiseer nadat die twee in Buenos Aires gebots het. In 'n massiewe botsing tydens oefening vir die 1995 Japannese Grand Prix het hy 'n nekbesering opgedoen wat hom die wedren laat misgeloop het,[1] en hy het dadelik sy uittrede aangekondig.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Tremayne, David. "Schumacher asserts his authority". The Independent, 30 Oktober 1995.