Gaan na inhoud

Golo Mann

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie



Golo Mann

Duits-Switserse geskiedkundige, publisis en skrywer


Stroming

Literêre historikus


Beduidende werke

Deutsche Geschichte des 19. und 20. Jahrhunderts


Wallenstein. Sein Leben erzählt von Golo Mann


Toekennings

  • Büchner-prys (1968)
  • Gottfried Keller-prys (1969)

Golo Mann (* 27 Maart 1909 in München; † 7 April 1994 in Leverkusen; eintlik Angelus Gottfried Thomas Mann) was 'n Duits-Switserse geskiedkundige, publisis en skrywer.

Golo Mann was die derde kind van die Nobelpryswenner vir Literatuur Thomas Mann en sy vrou Katia. Hy het filosofie en geskiedenis gestudeer en in Heidelberg onder Karl Jaspers gepromoveer. Ná die magsoorname van Adolf Hitler en sy Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty in Januarie 1933 het Golo Mann, wat onder die vroegste kritici van Hitler se beweging gereken word, eers na Frankryk en later na Switserland geëmigreer. Hy was dosent in St. Cloud en aan die Universiteit van Rennes in Bretagne. Tussen 1937 en 1940 was hy redakteur van die Zürichse tydskrif Maß und Wert.

As oorlogsvrywilliger is Golo Mann in Frankryk geïnterneer, maar het in die najaar van 1940 daarin geslaag om na die Verenigde State te vlug. Vanaf 1942 was hy professor vir geskiedenis aan die Olivet College en aan die Claremont Men's College. Teen die middel van die 1950's het hy na Duitsland teruggekeer en hom later in Switserland gevestig.

Hy was tussen 1958 en 1959 gasprofessor in Münster, Noordryn-Wesfale en van 1960 tot 1964 professor vir politieke wetenskap aan die Technische Hochschule Stuttgart. Daarna was hy as vrye publisis werksaam en het invloedryke kommentaar op die politieke gebeure gelewer. Hy het intensiewe kontak met Duitse politici soos die bondskanseliers Konrad Adenauer en Willy Brandt onderhou. Vir die laasgenoemde was hy as raadgewer opgetree en openlik sy sogenaamde Ostpolitik gesteun wat op ontspanning met die Oosbloklande gemik was. Mann het egter krities teenoor die linkse studentebeweging van 1968 gestaan.

Sy steun vir die konserwatiewe Beierse eerste minister Franz Josef Strauß, die kanselierkandidaat vir die Christen-Demokratiese party CDU/CSU in die algemene verkiesing van 1980, het vir baie as 'n verrassing gekom.

Mann se historiese werke word by die invloedrykste Duitse publikasies in dié genre gereken. As behoudende geskiedkundige volg hy in teenstelling met baie van sy kollegas nie soseer maatskaplike teorieë nie, maar plaas die historiese figuur as mens sentraal in sy werke. Sy bekendste publikasies sluit die Deutsche Geschichte des 19. und 20. Jahrhunderts ('n standaardwerk oor die "Duitse geskiedenis van die 19de en 20ste eeu") in wat in 1958 verskyn het en waarvan miljoene eksemplare in nege tale verkoop is, asook sy outobiografie Erinnerungen und Gedanken.

Ook sy Wallenstein-biografie van 1971 (Wallenstein. Sein Leben erzählt von Golo Mann) het danksy Golo Mann se meesterlike narratiewe styl met tallose historiese bronne, wat die vroeë 17de eeu lewendig laat word en Albrecht von Wallenstein as geniale veldheer, heerser en ekonoom uitbeeld, 'n groot sukses en blitsverkoper geword waarvan twee miljoen eksemplare verkoop is. Golo Mann het sy eerste essay or Wallenstein reeds in 1934 gepubliseer.[1]

Verwysings

[wysig | wysig bron]