Gaan na inhoud

Strandbeest

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Strandbeest in Kerkrade (2013)
Strandbeest in Hannover (2007)

Strandbeesten is kinetiese kunswerke wat in Nederlands "stranddiere" beteken.

Agtergrond, doel en filosofiese onderbou

[wysig | wysig bron]
Theo Jansen (Hannover, 2007)

Die Strandbeest het eintlik 1989 begin ontwikkel uit rekenaarwurmpies wat muteer het deur teen mekaar te bots. Jansen het hulle van pootjies voorsien, eers vier, maar toe later 48, wat blyk die ideale aantal is. Toe hy die ideale vorm en verhoudinge op die rekenaar gevind het, is die model gebou met PVC-buise.[1]

Sedert 1990 bou Theo Jansen hierdie konsep verder uit. Die hooftema van Strandbeesten is die evolusie. Die onderdele van sy vorige werke vergelyk hy met die paleontologie: "Het is een historisch overzicht van de evolutie tot nu, een opgraving."[2] Elke nuwe geslag kunswerke moet beter by hul omgewing aangepas wees as die vorige uitgestorwenes. Jansen se werk en detailoplossings beskryf en vergelyk hy dikwels aan die hand van die biologie. Estetika is ook nie die hoofsaak in hierdie kunswerk nie; die buisies en hul funksies, en die foute wat begaan en uit geleer word, bepaal die rigting wat die kunstenaar inslaan. Hierdie evolusie loop eerder 'n kronkelpad as 'n reguit paadjie, die idees en probeerslae vergelyk hy met "mutasies" soos mens in die vrye natuur ook vind.[3]

In 1994 voer hy nog aan: "Ik maak de natuur na om de evolutie van de echte natuur te ontdekken".[4] En tog probeer Jansen, soos die dekades vorder, om nie by die natuur af te kyk wanneer hy die modelle bou nie; hierdie kunswerk het nou sy eie lewe en ontwikkelingsgang en is nie meer 'n namaaksel van die natuur nie.[3]

Elke lente laat hy sy skeppings op die strande vry, om dan hul eie lewe te gaan lei. Hy doen eksperimente in die somer op die strand, teen die herfs het hy wyser geword waar verbeteringe aangebring kan word, die dier word dan as "uitgestorwe" verklaar (die boumateriaal gaan na die "benenveld", of in musea of by tentoonstellings dwarsoor die wêreld), en dan is dit maar weer terug na die werksbank. Sy hoofdoel is om Strandbeesten te skep wat hulself selfstandig kan aandryf op die strand, wat teen water, wind en weer bestand sal wees, maar wat ook hom, hul maker, sal oorleef.[3]

Te midde van die teleurstellinge wat Jansen tref as die 90% wat hy beplan nie geluk nie, put hy enorm baie vreugde uit die skeppingsproses self (maar hy beskou homself ook as optimis-sonder-rede). Deur self skepper te wees, word hy algaande wyser, en hoop om op hierdie wyse met dieselfde probleme gekonfronteer te word as wat die Skepper self met die egte lewe moes.[3][5]

Hy hoop om elke nuwe geslag studente te besiel, of deur sy werk te "hipnotiseer" of daarby te betrek, om sy werk voort te sit na sy dood.[3]

Verhoudinge en afmetings van 'n been
Die voortbeweging van 'n Strandbeest-been
Voorstelling van 'n lopende Strandbeest

Om die kenmerkende loopbeweging te verkry, ontwikkel Theo Jansen 'n been (sien beeld langsaan). Om die verhoudinge en afmetings van die stawe en buise te bepaal, skryf Jansen daarvoor 'n rekenaarprogram op 'n Atari-rekenaar. Die algoritme begin met willekeurige toevalswaardes, die beste daarvan word vervolgens uitgekies, wat op sy beurt nuwe variante skep (dus, evolusionêre algoritme). Die eerste Strandbeest (Animaris currens vulgaris) is die produk van hierdie eerste stel syfers. Omdat die bene in die praktyk aanvanklik nie wou werk nie, laat hy die algoritme nog 'n keer loop. En hierdie berekende getalle as resultaat (wat hy die "(eleven) holy numbers"[6] doop) het hul tot vandag toe nog keer op keer bewys.[7]

Die voortbeweging (kinematika) van hierdie bene word ook in die tegniese meganikahandboeke gebruik as voorbeeld van die vierledige krukdryfstangmeganisme (met hefbome).[8] Dit herinner aan die Klann-meganisme en die Loopmasjien van Tsjebysjow, wat andersins ook as die Plantigrade Machine (soolgangermasjien) bekend staan.

Materiaal

[wysig | wysig bron]

Die kenmerkende geel PVC-plastiekpype (eintlik isolasiebuise[6]) was in 1990 goedkoop en maklik bekombaar, en daarom die gekose materiaal. Jansen eksperimenteer tussen 1997 tot 2001 wel met hout[9][10] en karton (vergelyk Animaris spissa carta), in 2004 met staal,[9] maar keer daarna weer terug na die oorspronklike materiaal.

Jansen noem die buise die "proteïne".[6][11][12]

Aan die een kant bied die plastiekbuise beperkte ontwerpsmoontlikhede, maar bied aan die ander kant weer vir Jansen die geleentheid vir improvisasie, om nuwe oplossings daarvoor te vind.[11]

Aandrywing

[wysig | wysig bron]

Die eerste modelle kon sonder die mens nie beweeg nie;[6][13] die Strandbeest moes toe nog met die hand gesleep, getrek, geskuif of gestoot word.[14]

Tans loop die Strandbeesten op windkrag.

Die opvolggenerasies (2001-2006) het daarbenewens ook die saamgeperste lug benut wat in PET-botteltjies geberg is.[15][11] Hierdie plastiekbotteltjies noem Jansen "windmagen".[16]

Geheue

[wysig | wysig bron]

Reeds in 1994 merk Jansen op die "wurmbeest" (wat toe nog eksklusief op die rekenaarskerm was), sonder 'n enkele bewussyn, gegrond op die logika, self 'n "veilige vorm" aangeneem het om hom teen moontlike gevaar te beskerm.[17]

By latere modelle (vanaf 2006) is sintuie en 'n soort logika ingebou.

Jansen maak hiervoor van lugdruk en selfgemaakte ventilasie gebruik, dus, pneumatika.

Hierdie "geheue" maak dit vir die Strandbeest moontlik om voor die aankomende of stygende vloedgety duinewaarts te beweeg en hom tydens 'n storm vas te anker.[15][11]

Laswerk

[wysig | wysig bron]

Oorspronklik is kleefband gebruik om die Strandbeest in een stuk te hou.[11] Toe dit nie wil vlot nie, ondersoek Jansen ander moontlikhede. Die heel eerste modelle is ook gelas met kabelbinders (tie-wraps), PVC-lym, met waaiers van plastiek- of voëlvere.[1] Hy gebruik by die huidige Strandbeesten kabelbinding, linte, nylontoue, kleefband en silikonjel.[18][15][11]

Grootte

[wysig | wysig bron]
Animaris rhinoceros lignatus van hout weeg 250 kg[10]

Die swaarste Strandbeest is die Animaris rhinoceros transport.[9] Dit is van poeierbedekte staal gemaak, weeg 3,2 ton[15] en is ongeveer 4,7 × 6 × 5 m.[9]

Modelle

[wysig | wysig bron]

Daar is ook Strandbeest-modelletjies[19] wat in boustelletjies of 3D-gedrukte modelletjies ressorteer. Die modelle en replikas maak dit vir Jansen moontlik om die Strandbeesten nie alleen te vermeerder en uit te brei nie, maar ook toegankliker te maak.[12]

Boustelletjies

[wysig | wysig bron]
Strandbeest in die kleine – Animaris ordis parvus

Die eerste boustelletjie (Animaris ordis parvus) verskyn in 2011 onder meer saam met 'n Japannese tydskrif.[20] Die boekie/bylaag en bouaanwysings is later in Engels vertaal.

Die Engelse bouinstruksies is ook op die internet beskikbaar.[21]

Animaris rhinoceros parvus is nog 'n ander verkrygbare boustelletjie.[22]

3D-modelle

[wysig | wysig bron]

Daar is 3D-gedrukte modelle in verskeie groottes verkrygbaar. Hierdie modelletjies word glad nie aanmekaar gesit nie; sodra die stelletjie klaar gedruk en skoongemaak is, kan hy maar loop.

Vir Jansen is hierdie modelle die volgende vlak in die logiese evolusiegang.[23]

In die media

[wysig | wysig bron]

Theo Jansen en sy Strandbeest is saam in 'n BMW-advertensie van 2007 te sien.[11][24]

In 2007 kry Theo Jansen 'n spreekbeurt by die TED-konferensie.[25]

Stelbouer Adam Savage is 'n bekende liefhebber van die Strandbeesten.[26]

Uitsaaiers soos die BBC[27], die Duitse 3sat[15] en die Switserse radio en televisie (2009)[18] het oor Theo Jansen en sy Strandbeesten berig.

Tydskrifte en koerante wat oor die Strandbeeste geskryf het, sluit o.a. The New Yorker[11] en The New York Times[12] in.

In 2016 was Theo Jansen en sy Strandbeest in een episode van The Simpsons die gaskunstenaars.[28]

Evolusiegang

[wysig | wysig bron]

Hier volg die lys Strandbeesten (Animaris) volgens datum[29]:

  • Animaris lineamentum (1989, op papier)
  • Animaris vermiculus artramentum (1989, op papier)
  • Animaris quadrupes (1989, op papier)
  • Animaris vulgaris (1990)
  • Animaris currens vulgaris (1991)
  • Animaris derba (1991)
  • Animaris currens ventosa (1993)
  • Animaris speculator (1993)
  • Animaris sabulosa (1994)
  • Animaris sabulosa cutis (1994)
  • Animaris gryllothalpa (1995)
  • Animaris rigide ancora (1995)
  • Animaris rigide properans (1995)
  • Animaris geneticus (1996)
  • Animaris geneticus ondula (1996)
  • Animaris lignatus (1997)
  • Animaris rhinoceros tabulae (1997)
  • Animaris rhinoceros transport (1997, 2004)
  • Animaris rhinoceros vulgaris (1997)
  • Animaris rugosus ondula (1998)
  • Animaris spissa carta (1998)
  • Animaris rugosus peristhaltis (2000)
  • Animaris vaporis (2000)
  • Animaris vermiculus (2001)
  • Animaris currens vaporis (2001)
  • Animaris ordis (2006)
  • Animaris percipiere excelsus (2006)
  • Animaris percipiere primus (2006)
  • Animaris percipiere rectus (2006)
  • Animaris modularius (2007)
  • Animaris umerus (2009)
  • Animaris longus (2010)
  • Animaris siamesis (2010)
  • Animaris gubernare (2011)
  • Animaris adulari (2012)
  • Animaris apodiacula (2013)
  • Animaris plaudens vela (2013)
  • Animaris protinus (2013)
  • Animaris calceamente (2014)
  • Animaris suspendisse (2014)
  • Animaris turgentia (2014)
  • Animaris duabus caudis (2014)
  • Animaris proboscis (2015)
  • Animaris bruchus primus (2016)
  • Animaris mulus (2017)
  • Animaris omnia (2018)
  • Animaris chalibs (2018)
  • Animaris uminami (2018)
  • Animaris mimicrae (2019)
  • Animaris ader (2020)
  • Animaris multi tripodes (2020)

Publikasies

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 "De schepping in plastic nagebootst". 9 Desember 1993. Besoek op 1 Februarie 2021 – via Koninklijke Bibliotheek.
  2. (nl) Volkskrant: Beesten in Turbinehal
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 (nl) Youtube: VPRO Mondo - Theo Jansen laat nieuwe generatie strandbeesten los, 9 mei 2020.
  4. "Huppelende strandbeesten met knietjes". NRC Handelsblad. Rotterdam, 1994/10/29 00:00:00, Geraadpleegd op Delpher op 01-02-2021, http://resolver.kb.nl/resolve?urn=KBNRC01:000030905:mpeg21:p006
  5. (en) Strandbeest.com: "In redoing this creation, he hopes to become wiser in the dealing with the existing nature by encountering problems the real Creator had to face."
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2014. Besoek op 19 Augustus 2014.
  7. http://www.strandbeest.com/beests_leg.php
  8. tm-aktuell.de: Theo Jansens Strandbeest-Mechanismus
  9. 9,0 9,1 9,2 9,3 Produktinformation – Strandbeest (Momento, 19 Augustus 2014, geargiveer 2014 by Internet Archive)
  10. 10,0 10,1 Mare Online: Windspiel mit Strandbiestern
  11. 11,0 11,1 11,2 11,3 11,4 11,5 11,6 11,7 http://www.newyorker.com/magazine/2011/09/05/the-march-of-the-strandbeests
  12. 12,0 12,1 12,2 http://www.nytimes.com/2014/11/30/magazine/theo-jansens-lumbering-life-forms-arrive-in-america.html?_r=1
  13. facebook.com
  14. https://web.archive.org/web/20140819160340/http://beta.slashdot.org/story/194851
  15. 15,0 15,1 15,2 15,3 15,4 3sat.de: Kulturzeit – Ein moderner da Vinci – Theo Jansen und seine Skulpturen
  16. http://www.volkskrant.nl/dossier-archief/beesten-in-turbinehal~a3612109/
  17. "Theo Jansen". NRC Handelsblad. Rotterdam, 1994/02/25 00:00:00, Geraadpleegd op Delpher op 01-02-2021, http://resolver.kb.nl/resolve?urn=KBNRC01:000030788:mpeg21:p025
  18. 18,0 18,1 SRF.ch: Kulturplatz – Die unheimlichen Strandbiester des Theo Jansen zu Besuch in Zürich
  19. strandbeest.com
  20. http://otonanokagaku.net/english/magazine/vol30/index.html
  21. otonanokagaku.net
  22. http://www.strandbeest.com/shop/index_usa.php
  23. strandbeest.com
  24. (BMW-advertensie in Engels, eie stem, YouTube)
  25. http://www.ted.com/talks/theo_jansen_creates_new_creatures
  26. tested.com Adam Savage's One Day Builds: Strandbeest Model Kit Geargiveer 27 Januarie 2020 op Wayback Machine
  27. http://www.bbc.co.uk/programmes/p00bzj33
  28. https://simpsonswiki.com/wiki/The_Nightmare_After_Krustmas
  29. Strandbeest.com: Genealogy

Eksterne Skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Duitse Wikipedia vertaal.