Baha’i

(Aangestuur vanaf Bahá'í)

Bahaïsme[1] (Arabies: بهائية, Persies: بهائي‎; dikwels ook Baha'i, Baha'i-geloof, Baha'isme of Baha'idom genoem) is 'n godsdiens wat in die 19de eeu in die destydse Persië (moderne Iran) ontstaan het. Gelowiges glo in die eenheid van God, godsdiens en die mensdom.[1] Dit is 'n relatief nuwe godsdiens wat wêreldwyd tussen twee en vyf miljoen volgelinge het. Hoewel van die stigterslede van die godsdiens Sjiïtiese Moslems was, en sommige mense Baha'i daarom steeds as 'n Moslem-groep beskou, is daar aansienlike verskille tussen dié twee godsdienste wat hulle eintlik onversoenbaar maak. Baha'i maak self daarop aanspraak dat dit 'n universele godsdiens is wat die belangrikste oortuigings van al die ander belangrike godsdienste saamvat.

Die Baha'i-ster, een simbool van die Baha'i-geloof.

Basiese leerstellings

wysig
 
Die "grootste naam", vertaal as Alláh-u-Abhá of Baha'u'llah.
 
Die kalligrafiese Ringklip (بهاء‎ bahā')

Anders as by die meeste ander godsdienste, het Baha'i geen rituele of godsdienstige praktyke nie. Hoewel gebed by lede aanbeveel word, is selfs dit nie verpligtend nie. Tydens samekomste neem verskillende lede leiding om uit die Heilige Skrifte voor te lees en word daar nie aan 'n spesifieke vorm of orde voorkeur gegee nie.

Een God

wysig

Soos die Zoroastrisme, Judaïsme, Christendom, Islam en Sikhisme is die Baha'i-geloof 'n monoteïstiese godsdiens wat in die eerste plek glo en verklaar dat daar net Een Almagtige God bestaan. Baha'is glo dat hierdie God, wat die Skepper is van alles wat bestaan, vir die mens "onkenbaar" en "onbeskryflik" is. Die mens kan God dus nie uit sy eie krag of vermoë leer ken of verstaan nie.

Manifestasies van God

wysig

Baha'is glo ook soos die Moslems, Judaïste en Zoroastriste dat God Hom van die vroegste tye af deur spesiale boodskappers aan die mens openbaar het. Waar Moslems en Jode egter glo dat hierdie boodskappers gewone mense was wat deur God as profete gebruik is om sy boodskap oor te dra, glo Baha'is dat die boodskappers almal manifestasies is van dieselfde goddelike gees. Hulle verskil ook van Moslems deurdat hulle Mohammed wel as boodskapper erken, maar nie as die laaste boodskapper soos wat Moslems glo nie. Baha'is glo God het in die verlede verskillende boodskappers na verskillende volke en kulture gestuur om hulle volgens sy wil te leer en te lei, en sal dit in die toekoms steeds doen. Van die belangrikste boodskappers of manifestasies tot nou was onder meer Adam, Abraham, Moses, Zoroaster, Boeddha, Krisjna, Jesus, Mohammed, die Bab en Baha'u'llah, die stigter van die Baha'i-geloof.

Tien Gebooie

wysig

Baha'is volg 'n leefwyse met hoë morele standaarde waar eerlikheid, betroubaarheid, kuisheid, naastediens, vrygewigheid, en harde werk as vorms van aanbidding beskou word. Die Tien Gebooie, soos aangeteken in die Judaïstiese Torah en Christelike Bybel, word as voorskrifte vir 'n rein en (aan God) toegewyde lewe beskou. Die Tien Gebooie bepaal onder meer dat daar net Een God is en dat Hy alleen aanbid mag word; dat Sy naam nie misbruik mag word nie; dat mense die sabbat (sewende rusdag) moet onderhou, dat kinders hul ouers moet eer; dat mens nie mag moord pleeg, steel of valse getuienis teen ander lewer nie, dat mense nie ontrou mag wees in die huwelik nie en dat mense nie mekaar se besittings mag begeer nie. Baha'i verbied ook die gebruik van alkohol, dwelmmisbruik, dobbel en skinder.

Algemene doelstellings

wysig

Baha'u'llah se belangrikste doelwit was om 'n universele godsdiens te vestig wat mense van verskillende gelowe, kulture en agtergronde sou saamsnoer om God te aanbid en in die algemeen te help om van die wêreld 'n beter plek te maak. Om dit te doen, beywer Baha'is hulle onder meer daarvoor om die eenheid van die menslike ras en samewerking onder verskillende religieë te bevorder, harmonie tussen die wetenskap en godsdiens te verkondig, hulle te beywer vir gelykheid van geslagte, verpligte onderwys vir almal, die instelling van 'n universele of wêreldtaal en die beëindiging van uiterste rykdom en armoede, om vooroordele uit die weg te ruim en wêreldvrede te bevorder. In hierdie strewes is daar heelwat ooreenkomste tussen Baha'i en die New Age-beweging. Die grootste verskil is egter dat hoewel Bahá'aí's ander godsdienste erken, hulle steeds daarop aandring dat daar net Een God is wat aanbid mag word, terwyl aanhangers van New Age glo dat mense kan kies of hulle 'n god, verskillende gode of selfs natuurkragte wil aanbid of volg.

Ander oortuigings

wysig

'n Interessante verskynsel in Baha'i is dat daar besonderse waarde geheg word aan die syfer nege. Die numeriese waarde van die Arabiese woord bahá is nege. Daar is ook nege openinge in die menslike liggaam, wat volgens Baha'is dui op 'n beginsel waarvolgens die ganse heelal georganiseer is. Baha'is het, soos Moslems, 'n jaarlikse vastyd en agt "heilige dae" waarop gebeure in die lewens van die godsdiens se stigters herdenk word. Op dié dae word daar nie gewerk nie en Baha'i's beskou dít (om nie te werk nie) as 'n spesiale offer. Nuwejaar (Naw-Ruz) word op 21 Maart gevier. Van die belangrikste verskille tussen Baha'i en Islam is onder meer dat eersgenoemde glo dat Mohammed 'n profeet was, maar nie die laaste profeet nie; dat hulle die Koran as 'n openbaring van God beskou maar nie as die "laaste en volmaakte openbaring" nie, en dat hulle die Islamitiese konsep van Djihad (heilige oorlog) verwerp en vrede voorstaan.

Heilige skrifte

wysig

Omdat Baha'i's glo dat alle godsdienste openbarings van God bevat, heg hulle waarde aan die heilige skrifte van die meeste ander godsdienste. Geskrifte soos die Christelike Bybel, die Joodse Torah en die Islamitiese Koran word veral intens bestudeer om te sien hoedat Baha'u'llah die profesieë daarin vervul het. Die belangrikste heilige skrif in Baha'i is egter die Kitab-i-Aqdas, wat deur Baha'u'llah geskryf is en beskou word as die godsdiens se wetboek. Ander belangrike geskrifte is "Versamelings van Baha'u'llah se Werke", "Gebede en Oordenkinge", "Sendbrief aan die Seun van Wolf", "Die Sewe Valleie" en "Die Vier Valleie". Sommige van hierdie werke is in soveel as 350 verskillende tale beskikbaar – ook in Afrikaans. 'n Interessante beginsel wat Baha'is volg, is dat elke mens onafhanklik van ander na die waarheid kan soek. Dit beteken dat 'n Baha'i die heilige skrifte van die godsdiens op sy eie kan bestudeer en sy eie interpretasie daarvan kan volg.

Leierskap

wysig

Daar is geen godsdienstige ampsbekleërs in Baha'i nie. Plaaslike gemeentes word "geestelike rade" (baytu l-adl) genoem en bestaan uit 'n minimum van nege lede. In die Verenigde State van Amerika (VSA) alleen is daar meer as 1 700 sulke gemeentes. Afgevaardigdes van gemeentes kom jaarliks byeen vir 'n Algemene Jaarvergadering waar die lede van die Nasionale Geestelike Raad verkies word.

Die Baha’i-wêreldsentrum is op berg Karmel naby Haifa in Israel gesetel. Internasionale byeenkomste word gereeld daar, sowel as in ander lande, aangebied. Die beweging se argiewe word by die hoofkwartier gehou, wat ook as administratiewe sentrum dien. Baha'u'llah se graf is in die naburige stad Akkra (Akko).

Geskiedenis van Baha'i

wysig
 
Die Heiligdom van die Bab in die Baha’i-wêreldsentrum in Haifa, Israel.
  • Bab: "Die Deur"

Die oorsprong van Baha'i kan teruggevoer word na 1844 toe Sajied Ali'Mohammed, 'n Sjiïtiese Moslem, hom in die dorpie Sjiraz in die destydse Persië tot "Bab-ud-Din" (Arabies vir "deur van geloof") verklaar het. Onder sommige Sjiïtiese groepe beteken hierdie term dat hy toegang sou hê tot die Twaalfde Imam en dus as tussenganger tussen hom en Moslems sou kon optree. Die Bab – soos sy volgelinge na hom verwys het – het ook daarop aanspraak gemaak dat hy die vervulling was van verskeie profesieë waarvolgens God iemand sou stuur om 'n "nuwe godsdienstige era" in te lui. Onder sy leiding het 'n nuwe godsdiens tot stand gekom wat as Babisme bekend sou staan. Die meerderheid Sjiïete en die Persiese regering het egter die Bab se aansprake verwerp en hom as 'n ketter en godslasteraar gebrandmerk. Van sy volgelinge is gevolglik wreed vervolg en selfs vermoor. Die Bab is self in die tronk gegooi en in 1850 is hy op dertigjarige ouderdom ter dood veroordeel en om die lewe gebring. Kort hierna – in 1852 – is twintigduisend Babi's deur die Persiese regering om die lewe gebring.

 
Die Heiligdom van Baha'u'llah in Bahji naby Akko, Israel.

Voor sy dood het die Bab voorspel dat God negentien jaar later iemand sou stuur wat nóg groter en belangriker as hy self was. Dié persoon sou die "Beloofde Een van Alle Eeue" wees – 'n besonderse manifestasie van God soortgelyk aan Zoroaster, Boeddha, Jesus Christus en Mohammed. In 1852 is Mizra Hoesein-Ali, wat die Bab opgevolg het as leier van die Babi's, in die tronk gegooi nadat twee lede van die groep probeer het om die Sjah (keiser) van Persië om die lewe te bring. Terwyl hy in die tronk was, het Hoesein-Ali 'n openbaring van God ontvang dat hy die Beloofde Een was waarna die Bab negentien jaar tevore in sy voorspelling verwys het.

Ontstaan van Baha'i

wysig

Hoesein-Ali het sy naam hierna verander na Baha'u'llah, wat in Arabies "Glorie van God" beteken, en daarmee 'n nuwe godsdiens gevestig wat as Bahá'aí' bekend sou staan. In 1863 het hy sy roeping vir die eerste keer in die openbaar bekend gemaak – en onmiddellik teenstand gekry van die meerderheid Sjiïete. Vir die res van sy lewe sou Baha'u'llah, wat self vrede verkondig het, nooit weer in vrede leef nie. Hy en van sy volgelinge is van die een stad na die ander gedeporteer en as politieke gevangenes aangehou.

Tot met sy dood in Akkra (Ottomaanse Ryk, huidige Israel) in 1892 het Baha'u'llah egter voortgegaan om die Baha'i-geloof te bevorder. Hy het die beginsels en wette van Baha'i vir sy volgelinge neergeskryf en by verskeie geleenthede briewe aan die wêreldleiers van sy tyd (onder meer Pous Pius IX van die Kerklike staat, Napoléon III van die Tweede Franse Keiserryk, Aleksander II van die Russiese Ryk, Wilhelm I van die Koninkryk Pruise, Victoria van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland, Frans Joseph I van Oostenryk-Hongarye, Abdülaziz van die Ottomaanse Ryk en Nasruddin Sjah van Persië) gestuur waarin hy die doelstellings van die godsdiens aan hulle verduidelik en hulle probeer oorhaal om dit te aanvaar.

Groei tot wêreldgodsdiens

wysig
 
Die Lotustempel in Delhi, Indië

Baha'u'llah se seun, Abbas Effendi, bekend as ʻAbdu'l-Bahá onder sy volgelinge, het ná sy pa se dood oorgeneem as leier van die Baha'is. Soos sy pa, is hy weens sy oortuigings in die tronk gegooi. Ná sy vrylating in 1908 het ʻAbdu'l-Bahá 'n sendingreis deur Europa en Noord-Amerika onderneem om die Baha'i-boodskap daar te verkondig.

'n Tak van Baha'i is egter reeds vroeër in 1894 deur Ibrahim George Kheiralla in die VSA gevestig. Kheiralla het vir homself 'n diploma gekoop om die titel "dokter" te kan gebruik en begin om as geneesheer te praktiseer. Uit dié praktyk het hy 'n inkomste verdien en ook die geleentheid gebruik om die leerstellinge van Baha'i met sy pasiënte te deel.

In 1895 het Kheiralla en sy eerste vyf Amerikaanse bekeerlinge die "Eerste Raad van Baha'i's in Amerika" (First Assembly of Baba'ists in America) gestig. Nuwe bekeerlinge het gou bygekom en hoewel daar later 'n skeuring tussen Kheiralla en ʻAbdu'l-Bahá ontstaan het, het die groep aangehou groei tot die Baha'i-groepe in die VSA teen 1920 die grootste ter wêreld was.

Vervolging in Iran

wysig

Die Baha'is se geskiedenis in Persië sowel as in die moderne staat van Iran is grootliks in bloed geskrewe. Duisende van hulle het sedert die ontstaan van die godsdiens daar onder verskillende regerings as martelaars gesterf. Sedert die Irannese Rewolusie onder leiding van die Sjiïtiese Ajatolla Ruholla Komeini (1900–1989) in 1979, het dié vervolging opnuut toegeneem. Die Sjiïete beskou Baha'is as ketters en onrusstokers en beskou dit as hul taak om hul godsdiens (Islam) teen hulle te beskerm.

Huwelike tussen Baha'is word as prostitusie beskou omdat dit nie volgens die Islamitiese Wet geldig is nie. Baha'is word van spioenasie verdink omdat hulle internasionale kongresse in die buiteland bywoon. Hulle word ook beskou as samesweerders met Israel omdat hul wêreldsentrum in Haifa (Israel) gesetel is.

Baha'i vandag

wysig

Baha'i's maak daarop aanspraak dat daar aan die begin van die 21ste eeu sowat vyf miljoen volgelinge van dié godsdiens op aarde was. Onafhanklike bronne dui egter daarop dat dié syfer waarskynlik nader aan twee miljoen lede is. Hoe dit ook al sy, Baha'i het in die sowat 150 jaar van sy bestaan gegroei tot 'n wêreldgodsdiens met lede in minstens driehonderd verskillende lande. In die VSA was daar teen 1990 sowat 110 000 Baha'is en aanduidings is dat die godsdiens daar – soos in verskeie ander Westerse lande – steeds veld wen. In Afrika was daar na raming teen 1993 sowat 1,5 miljoen Baha'is. Afrika-lande waar daar redelike groot Baha'i-gemeenskappe is, is onder meer Uganda, Botswana, Kenia, Tanzanië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Rwanda, Tsjad, Burundi, Zambië en Malawi. Daar is ook klein groepies in Madagaskar en Namibië.

Suid-Afrika

wysig

Die eerste Baha'i aktiwiteite het in Mei 1911 te Kaapstad plaasgevind en die eerste Plaaslike Geestelike Raad is in 1925 te Pretoria verkies, maar die huidige gemeenskap het daadwerklik in 1953 begin toe dertien Baha'is vanaf die Verenigde State gekom het en hulle in Kaapstad, Pretoria, Johannesburg en Durban gevestig het. Suid-Afrika se Baha'i gemeenskap het hulle Goue Jubileum (halfeeufees) in 2003 te Pokeng gevier, wat gevolg is deur satelliet feestelikhede in Bloemfontein, Kaapstad, Durban, Pretoria, Johannesburg, Sabie, Mthatha en Mahikeng. Skattings van die aantal Baha'i volgelinge in Suid-Afrika strek van omtrent 201 000 tot omtrent 240 100 aanhangers deur die “World Christian Encyclopedia.”

Bronne

wysig
  • Hugh C. Adamson: Historical Dictionary of the Bahá’í Faith, Scarecrow Press, Lanham (Maryland), 2007, ISBN 978-0-8108-5096-5
  • G. Cameron, W. Momen: A Basic Bahá’í Chronology, George Ronald, Oxford, 1996, ISBN 0-85398-404-2
  • Juan Ricardo I. Cole: Baha’i, David Levinson, Karen Christensen, Encyclopedia of modern Asia, Charles Scribner's Sons, Thomson Gale, New York, 2002, ISBN 0-684-31242-5
  • William S. Hatcher, J. Douglas Martin: The Bahá’í Faith. The Emerging Global Religion Bahá’í Publishing Trust, Wilmette (Illinois), 2002, ISBN 1-931847-06-1
  • B. Todd Lawson: Bahā’ī, John L. Esposito, The Oxford Encyclopedia of the Modern Islamic World, Oxford University Press, New York, Oxford, 1995, ISBN 0-19-509612-6
  • Moojan Momen: Relativism. A Basis For Bahá’í Metaphysics, Studies in Honor of the Late Husayn M. Balyuzi. Studies in the Bábí and Bahá’í Religions, Kalimát Press, Los Angeles, 1988, (Online)
  • Moojan Momen: The Baha’i Faith. A Beginner's Guide Oneworld Publications, Oxford, 2008, ISBN 1-931847-27-4 (Online Geargiveer 7 September 2009 op Wayback Machine)
  • Nader Saiedi: Logos and Civilization. Spirit, History and Order in the Wiritings of Bahá’u’lláh, University Press of Maryland, Bethesda, 2000, ISBN 1-883053-63-3
  • Peter Smith: A Concise Encyclopedia of the Bahá’í Faith, Oneworld Publications, Oxford, 2008, ISBN 978-1-85168-184-6
  • Peter Smith: An Introduction to the Baha’i Faith Cambridge University Press, New York, Cambridge, 2008, ISBN 978-0-521-68107-0
  • Peter Smith: The Babi and Baha’i Religions. From messianic Shi’ism to a World Religion, Cambridge University Press, Cambridge, New York, 1987, ISBN 0-521-31755-X
  • Peter Smith: The Bahá’í Faith. A Short History, Oneworld Publications, Oxford, 1999, ISBN 978-1-85168-208-9
  • Robert Stockman: Bahá’í Faith, Thomas Riggs, Worldmark Encyclopedia of Religious Practices, Thomson Gale, Detroit, 2006, ISBN 0-7876-6612-2
  • John Walbridge: Baha’i Faith, Richard C. Martin, Encyclopedia of Islam and the Muslim World, Macmillan Reference USA, Thomson Gale, New York, 2004, ISBN 0-02-865604-0

Verwysings

wysig
  1. 1,0 1,1 HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Eksterne skakels

wysig
  • (en) Amptelike webwerf
  • (en) Bahá'í International Community – United Nations Office
  • (en) Open Directory Project Geargiveer 7 Maart 2017 op Wayback Machine
  • (en) Bahaikipedia
  • (en) "Bahāʾī Faith". Encyclopædia Britannica. Besoek op 21 Maart 2024.