Gaan na inhoud

Jagluiperd

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Jagluiperd
Tydperk: Sedert laat Pleistoseen
'n Jagluiperd (Acinonyx jubatus) in die Ngorongoro-krater, Tanzanië
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Subfamilie:
Genus:
Brookes, 1828
Spesie:
A. jubatus
Binomiale naam
Acinonyx jubatus
(Schreber, 1775)
Tipespesie
Acinonyx venator
Brookes, 1828 (= Felis jubata, Schreber, 1775) deur monotipie
Subspesies
Die verspreiding van die jagluiperd

Die jagluiperd (Acinonyx jubatus), voorheen vlaktetier, is 'n soogdier en karnivoor in die katfamilie (FelidaeFelinae) en kom in 'n verskeidenheid van habitats voor, hoofsaaklik in Afrika en gedeeltes van die Midde-Ooste. Die spesie is die enigste oorlewende spesie van die genus Acinonyx en word deur die IUBN geklassifiseer as 'n kwesbare spesie. Dit is die vinnigste landsoogdier en kan snelhede van tussen 112 en 120 km/h (70 en 75 m.p.u.)[2][3] bereik oor kort afstande van ongeveer 450 meter (1 500 voet) en kan van 0–100 km/h (64 m.p.u.) versnel binne drie sekondes, wat vinniger is as die meeste supermotors.[4] Onlangse studies het bevestig dat die jagluiperd die vinnigste landsoogdier is.[5] 'n Klein groepering van 'n subspesie word in Iran aangetref.

Hulle verkies oop savannes, grasveld of bosveld.

Hierdie katsoort het 'n kenmerkende eienskap wat die pote betref: die kloue kan nie heeltemal terugtrek nie en tesame met die vorm van die kussinkies maak dit vasgryp so te sê onmoontlik.[6] Jagluiperds is wel daartoe in staat om tot in lae en maklik bereikbare takke te spring, maar nie regop bome te beklim nie.

Woordherkoms

[wysig | wysig bron]
  • "Jagluiperd" kan moontlik van jaagluiperd kom of die Engelse benaming van hunting leopard.[7]
  • "Vlaktetier" is die Afrikaanse volksbenaming wat ontwikkel het deur die dier as 'n luiperd (vroeër in die volksmond as tier bekend) met die vlaktes as sy woonplek te koppel.
  • "Cheetah" is ontleen uit Sanskrit sitrakāja, wat “gevlekte” beteken. Dit is weer afkomstig uit Hindi, chita, wat beteken “een met vlekke”.[7]

Genetika en klassifikasie

[wysig | wysig bron]
Jagluiperd met welpie
Jagluiperd in die Maasai Mara-Wildtuin in Kenia

Die geslagsnaam, Acinonyx, beteken “geen-beweeg-klou” in Grieks. Die spesienaam jubatus beteken in Latyn “bemaanhaar”, soos dit by jong jagluiperdwelpies gekenmerk word.

Die jagluiperd het uiters lae genetiese diversiteit. Dit gaan gepaard met 'n baie lae spermtelling, -beweeglikheid en misvormde -sweepstert.[8] Veloorplantings tussen nieverwante jagluiperds toon geen verwerping van die skenkervel nie, wat die gedagte van genetiese eenvormigheid staaf. Daar word aangevoer dat die spesie 'n langdurige intelingstydperk ondergaan het ná 'n genetiese knelpunt gedurende die laaste Ystydperk bereik is. Dit beteken dat genetiese eenvormigheid nie die jagluiperd daarvan weerhou het om oor duisende jare oor twee vastelande te gedy nie.[9]

Die jagluiperd het waarskynlik in Afrika gedurende die Mioseentydperk ontwikkel (26 – 7,5 miljoen jaar terug) voordat hy na Asië getrek het. Onlangse navorsing bedink die laaste gemeenskaplike voorouer van alle bestaande bevolkings het 1 miljoen jaar gelede in Asië geleef, wat 'n hersiening en verfyning van bestaande idees rondom die ewolusie van die jagluiperd kan meebring.[10]

Die uitgestorwe spesies sluit in: Acinonyx pardinensis (Plioseentydperk), veel groter as die moderne jagluiperd en gevind in Europa, Indië en Sjina; Acinonyx intermedius (mid-Pleistoseentydperk), in dieselfde tuisgebied gevind. Die uitgestorwe geslag Miracinonyx was bitter baie jagluiperdagtig, maar onlangse DNS-toetse toon dat Miracinonyx inexpectatus, Miracinonyx studeri en Miracinonyx trumani (Vroeë tot Laat-Pleistoseentydperk) in Noord-Amerika (bekend as die “Noord-Amerikaanse jagluiperd”) nie ware jagluiperds was nie, maar eerder nouliks verwant met die poema moet wees.[11]

Subspesies

[wysig | wysig bron]
'n Tanzaniese jagluiperd (Acinonyx jubatus raineyii)

Hoewel vele bronne van ses of meer subspesies van melding maak is die taksonomiese indeling van hierdie subspesies nog nie heeltemal uitgeklaar nie. Acinonyx rex– die koningjagluiperd – word vandag nie meer as 'n volwaardige spesie gereken nie, aangesien hierdie melanistiese vorm deur 'n resessiewe geen veroorsaak word. Die subspesies Acinonyx jubatus guttatus, die wollerige jagluiperd, kon ook so 'n afwyking gewees het. Van die algemeenste erkende subspesies sluit in:

  • Asiatiese jagluiperd (Acinonyx jubatus venaticus): Asië (Afganistan, Indië, Irak, Iran, Israel, Jordanië, Oman, Pakistan, Rusland, Saoedi-Arabië en Sirië)
  • Noordwes-Afrikaanse jagluiperd (Acinonyx jubatus hecki): Noordwes-Afrika (Algerië, Djiboeti, Egipte, Mali, Mauritanië, Marokko, Niger en Tunisië) en Wes-Afrika (Benin, Burkina Faso, Ghana, Mali, Mauritanië, Niger en Senegal).
  • Acinonyx jubatus raineyii: Oos-Afrika (Kenia, Somalië, Tanzanië en Uganda).
  • Acinonyx jubatus jubatus: Suider-Afrika (Angola, Botswana, Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe).
  • Acinonyx jubatus soemmeringii: Sentraal-Afrika (Etiopië, Kameroen, Niger, Nigerië, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Soedan en Tsjad).
  • Acinonyx jubatus velox

Uitkenning

[wysig | wysig bron]
'n Jagluiperdskedel
Vergelyking tussen 'n luiperd (links) en 'n jagluiperd (regs)
'n Dokumentêre video geskiet teen 1 200 rame per sekonde toon die beweging van 'n jagluiperd wat oor 'n perk hardloop
3D-model van die skelet

Die jagluiperd het 'n breë borskas en 'n skraal pens. Die grofgehaarde pels is donkergeel tot geelbruin met ronderige, vlekkies van tussen 2 tot 3 cm in deursnee wat 'n sekere mate van kamoeflering tydens jagtogte bied. Daar is geen vlekke op sy wit pens nie, maar die stert het wel vlekke wat saamsmelt om vier tot vyf donker kringe by die wit kwassie van die stertpunt te vorm. Die uitdrukking in sy groot geelbruin oë in sy koppie is eintlik sag in verhouding met die luiperd se onheilspellende blik.[7] Die opvallende “traanstrepe” wat vanaf die oë al langs die snoet na die bolip loop hou sonlig uit sy oë en kom goed te pas tydens jagtogte of waarneming oor lang afstande. Hoewel die liggaam hoogs gespesialiseerd is vir hoë spoed, het hy min uithouvermoë en is eerder aangepas vir kort afstande. Stormlope is selde meer as 250 tot 300 m.[7]

Die volwasse jagluiperd se massa wissel tussen 21 tot 72 kg. In die Nasionale Krugerwildtuin is die massa gewoonlik tussen 40 en 60 kg.[7] Die liggaamslengte is tussen 110 tot 150 cm, sonder die stert, wat weer 60 tot 84 cm lank is.[12][13][14][15] Jagluiperds se skouerhoogte is tussen 66 tot 94 cm.

Die mannetjies is gewoonlik 'n rapsie groter as die wyfies gebou en het effens groter koppe, maar dit is moeilik om geslagte van mekaar op grond van hul voorkoms te onderskei. As die jagluiperd met 'n ewe groot luiperd vergelyk word, het eersgenoemde 'n korter lyfie, maar 'n langer stert en 'n hoër skouerhoogte, wat hom 'n meer “vaartbelynde” voorkoms gee.

Party jagluiperds het 'n pelspatroon-afwyking met groter vlekke wat beklad lyk en saamgesmelt is. Die sogenaamde “koningjagluiperd” is nie 'n volwaardige spesie of subspesie soos aanvanklik geglo is nie. Hy is inderwaarheid 'n gewone jagluiperd met 'n melanistiese pelspatroon wat deur 'n resessiewe geen veroorsaak is.[16] Die koningjagluiperd kom selde in die natuur voor, maar is al in gevangenskap geteel.

Die jagluiperd se pote het hondagtige kloue wat halfpad ingetrek kan word. Dit bied beter vasgryp tydens sy stormlope teen 'n hoë spoed. Die ligamentstruktuur van die jagluiperd se kloue is maar dieselfde as ander katte s’n, maar het net nie 'n skede van vel of pels nie – daarom is al die kloue, behalwe die valskloutjie, altyd sigbaar. Die valskloutjie op sigself is baie kleiner en meer reguit gevorm as dié by ander katsoorte.

Die jagluiperd is aangepas om vinnig te hardloop. Sy neusgate is groot om verhoogde suurstofinname moontlik te maak, terwyl 'n groot, sterk hart en longe doeltreffend saamwerk om die hoë suurstofvlakke in die bloedstroom te sirkuleer.

Gedurende 'n tipiese stormloop verhoog die asemhalingsvlakke vanaf 60 tot 150 asemhalings per minuut.[8] Daarby is die byniere ook in staat om hoë adrenalienproduksie te lewer.[7] Terwyl die jagluiperd hardloop, help sy hondagtige kloue om sy pote stewig op die grond geanker te hou. Die stert word as balans ingespan om skerp draaie te maak, wat nodig is om prooidiere agterna te sit wat op hierdie wyse probeer vlug voor die jagluiperd.

In teenstelling met die ander Groot Katte kan die jagluiperd nie brul nie, maar wel tydens inaseming spin. Die jagluiperd word tans steeds beskou as die kleinste van die Groot Katte.

Hoewel hy dikwels met die luiperd verwar word, is daar duidelike kenmerkende verskille, soos die reeds genoemde “traanstrepe” en ronde vlekke, pleks van rosette. Die kleinerige kop aan 'n verlengde nek help om die jagluiperd se gesigsveld op 'n stabiele as te hou wanneer hy prooi jaag, aangesien die res van die lyf geweldig op-en-af beweeg tydens die jagproses. Die skraal lyfie van die jagluiperd staan ook in skerp kontras met die bonkiger luiperd.

Die jagluiperd is 'n kwesbare spesie. Uit al die groot katsoorte pas die jagluiperd die swakste by 'n nuwe omgewing aan. Dit was maar altyd moeilik om jagluiperds in gevangenskap te teel; enkele dieretuine kon wel onlangs daarin slaag. Een manier is om 'n hond as speelmaat en waghond saam met die welpie groot te maak, sodat die later volwasse jagluiperd in gevangenskap minder gespanne en bedreig sal voel.[17]

Die jagluiperd was vroeër deur pelsjag bedreig, maar deesdae gaan hy meer gebuk onder habitat- en prooiverlies.

Voorheen is geglo dat die jagluiperd 'n heel primitiewe kat moes gewees het wat 18 miljoen jaar gelede ontwikkel het. Onlangse navorsing toon egter dat die laaste gemeenskaplike voorouerspesie van die huidige 40 katsoorte minder as 11 miljoen jaar terug gelewe het. Dieselfde filogenetiese analise toon dat die jagluiperd, hoewel morfologies gesproke, nie van 'n antieke afstamming afkomstig is nie. Die rede hiervoor is dat hy omtrent 5 miljoen jaar gelede van sy nouste katverwante spesies (Puma concolor, die poema en Puma yaguarondi, die jaguarundi) geskei het.[11] Hierdie katsoorte wyk nie veel van hul fossielvoorgangers af nie.

Vorme

[wysig | wysig bron]

Koningjagluiperd

[wysig | wysig bron]
'n Koningjagluiperd het 'n kenmerkende pelspatroon

Die koningjagluiperd, ook genoem die streepjagluiperd of gestreepte jagluiperd, is 'n seldsame mutasie van die gewone jagluiperd, waar laasgenoemde 'n kenmerkende pelspatroon het. Die koningjagluiperd word vir die eerste keer in 1926 in die destydse Suid-Rhodesië (tans Zimbabwe) opgeteken. In 1927 ken die natuurkenner, Reginald Innes Pocock, die dier 'n afsonderlike spesiestatus toe (Acinonyx rex), maar herroep die klassifikasie in 1939 weens 'n gebrek aan bewyse. In 1928 het Walter Rothschild 'n vel aangekoop waarvan die patrone halfpad ooreenstem tussen dié van die koningjagluiperd en die gewone, gespikkelde jagluiperd. Abel Chapman het hierdie eksemplaar as 'n kleurvariasie van die gespikkelde jagluiperd beskou. Twee-en-twintig van hierdie velle is tussen 1926 en 1974 gevind. Die koningjagluiperd is sedert 1927 nog vyf keer in die natuur opgemerk. Hoewel die jagluiperdvelle met vreemde patrone op vanuit Afrika bekend was, is 'n lewende koningjagluiperd vir die heel eerste keer gefotografeer in 1974, in die Krugerwildtuin. Die kriptosoöloë, Paul en Lena Brottriell, het in 1975 'n koningjagluiperd tydens 'n ekspedisie afgeneem. Hulle kon ook opgestopte eksemplare bekom. Die koningjagluiperd het groter gelyk as die gewone jagluiperd en sy pels het 'n ander tekstuur gehad. Daar was nog een vrylewende opgemerk in 1986 – die eerste keer in sewe jaar. Teen 1987 is agt-en-dertig eksemplare opgeteken, waarvan die meeste se velle as bewyse moes dien.

Hul spesiestatus is in 1981 opgeklaar nadat koningjagluiperds by die De Wildt-jagluiperdsentrum in Suid-Afrika gebore is. In Mei 1981 kry ook twee gespikkelde susterjagluiperds daar kleintjies; in elke werpsel was een koningjagluiperdjie. Die susters het al twee met 'n vrylewende mannetjie gepaar wat in die Transvaalomgewing gevang is (waar koningjagluiperds al voorheen opgeteken is). Later is nog koningjagluiperds by die sentrum gebore. Dit is bekend dat hulle in Zimbabwe, Botswana en in die noordelike dele van Transvaal [18] voorkom. 'n Resessiewe geen moet van albei ouers oorgeërf word om hierdie spesifieke patroon te kry; dit is een van die redes waarom die verskynsel so seldsaam is.

Ander kleurvorme

[wysig | wysig bron]

Die ander seldsame kleurvorme van die spesie is gespikkeldheid, melanisme, albinisme en grysskakering. Die meeste hiervan is by die Indiese jagluiperd opgeteken, veral onder dié wat vir die jagtogte aangehou is.

Die grootmogol van Indië, Jahangir, noteer 'n witjagluiperd wat in 1608 aan hom getoon is. In sy gedenkskrifte skryf die grootmogol, Tuzk-e-Jahangiri, dat in die derde jaar van sy regering "Radja Bir Singh Deo 'n witjagluiperd gebring [het] om aan my te toon. Hoewel ander skepsels, sowel voëls as diere, wit afwykings het... [het] ek nog nooit 'n witjagluiperd gesien nie. Sy vlekke, wat (gewoonlik) swart is, was blou en die witheid van sy lyf was ook geneig om 'n blouerige skynsel te hê."

Bogenoemde dui op 'n tjintjilla-mutasie waar die hoeveelheid pigment op die haarstam[19] beperk word. Hoewel die vlekke deur die swart pigment gevorm is, skep die yler kleuring 'n vae, gryserige skakering. Sowel Jahangir se witjagluiperd by Agra as die een wat in Beaufort-Wes deur Guggisberg beskryf is toon tekens van aanvangsalbinisme.

In 'n brief aan "Nature in East Africa" berig H.F. Stoneham van 'n melanistiese jagluiperd (swart met spookvlekke) in 1925 in die Trans-Nzoia-distrik van Kenia. Vesey Fitzgerald het in Zambië 'n melanistiese jagluiperd saam met 'n gespikkelde jagluiperd opgemerk. Die rooi-(eritristiese) jagluiperds het donker geelbruin vlekke op 'n goue grondkleur. Die roomkleurige (eintlik isabelkleurige) jagluiperds het vaalrooi vlekke op 'n vaal grondkleur. Party jagluiperds in die woestyngebiede is buitengewoon vaal. Hulle is moontlik beter gekamoefleer (daarom ook beter jagters) en sal heel waarskynliker voortplant en oorleef. Die blou-(Maltese of grys) jagluiperds word telkens beskryf as wit jagluiperds met blougrys vlekke (tjintjilla-mutasie) of fletsgrys jagluiperds met donkerder grys vlekke (Maltese mutasie). 'n Jagluiperd wat bykans vlekkeloos was is in 1921 in Tanzanië geskiet (Pocock); hy het enkele vlekke op sy rug en nek gehad wat buitengewoon klein was. 'n Soortgelyke jagluiperd is in 2012 in Kenia gefotografeer.[20]

Verspreidingsgebied en habitat

[wysig | wysig bron]
Verspreiding van die jagluiperd se subspesies
Vier jagluiperds in die Serengeti Nasionale Park, Tanzanië

Daar is etlike afgesonderde jagluiperdbevolkings in Afrika en Suidwes-Asië. 'n Klein bevolking (na raming sowat 50) het in die Khorasanprovinsie van Iran oorgebly, waar omgewingsbewaarders stappe doen om die diere te beskerm.[21]

Dit is te betwyfel of jagluiperds nog in Indië voorkom, aangesien daar sprake is dat uitsterwing reeds in 1952 plaasgevind het.[7] Daar was al ook etlike ongegronde bewerings van Asiese jagluiperds in die Baloetsjistanprovinsie van Pakistan, maar ten minste een karkas is onlangs op afgekom.[22]

Die jagluiperd floreer in uitgestrekte landskap waar prooidiere volop is. Die jagluiperd verkies 'n oop biotoop (soos halfwoestyne en grasvlaktes) asook ruigtes, maar kan in verskillende habitatte voorkom. In Namibië hou hy byvoorbeeld in grasveld, savanne, plekke bewas met digte plantegroei en bergagtige gebiede.

In baie dele van sy voormalige verspreidingsgebied is die jagluiperd deur die aristokrasie makgemaak en ingespan om jag te maak op wildsboksoorte op redelik dieselfde manier as wat vandag nog met sekere windhondsoorte gedoen word.

Voortplanting en gedrag

[wysig | wysig bron]
'n Jagluiperdwelpie
'n Jagluiperdwelpie in die private Wildplaas Phinda, KwaZulu-Natal, Suid-Afrika

Die jagluiperd het 'n unieke, welgestruktureerde sosiale struktuur. 'n Groterige tuisgebied en meer mannetjies in verhouding tot wyfies is glo belangrik. Die bronstige wyfie hardloop weg sodra 'n mannetjie haar nader. Uiteindelik is dit die vinnigste mannetjie wat met die wyfie paar. Dié spoedkaraktereienskap word dan aan sy welpies oorgedra.[7]

Vanweë die vooropstelling van vlugvoetigheid, is 'n aggressiewe bakleiery tussen die mannetjies oor 'n wyfie daarom ongewens, onnodig en kom dan ook seldsaam voor.[7]

Jagluiperds raak op die ouderdom van 14 tot 16 maande geslagsryp, maar sal eers by hul ma bly totdat hulle twee jaar oud is.[7] Daar is geen spesifieke teeltyd nie; dit geskied regdeur die jaar.[7] Die geboortetussenproses is ongeveer 15 tot 18 maande.[7] Navorsing in die Serengeti toon dat jagluiperdwyfies deur verskillende mannetjies bevrug word.[23]

Wyfies welp tot nege kleintjies ná 'n draagtyd van 90 tot 95 dae, met die gemiddelde geboortetal tussen 2 en 6.[7] Kleintjies weeg ongeveer 150 tot 300 g elk by geboorte. Die ogies gaan na omtrent die tiende dag oop.[7] Hulle word deeglik vir sowat 8 weke versteek.[7] Die welpies is baie weerloos in hierdie eerste paar lewensmaande; hulle vrek aan siektes soos katgriep en ragitis (Engelse siekte), maar is ook moontlike prooi vir arende, hiënas, luiperds en leeus.[7]

'n Jagluiperd word met sy vlekke gebore. Welpies word ook met vag rondom hul nekke gebore wat tot op die middelrug strek. Hierdie vag staan penorent, maar verhaar en verdwyn soos die jagluiperd ouer word. Daar is al bedink dat hierdie maanhare as verdedigingsmeganisme die jagluiperdwelpie soos 'n ratel laat lyk om moontlike vyande af te skrik.[24] Die eerste 18 lewensmaande van die welpie is belangrik: in hierdie tyd het hy baie te leer, want oorlewing hang van jagkennis af en hoe om ander roofdiere te vermy. Teen so ongeveer 18 maande verlaat die ma die welpies. Laasgenoemde vorm dan 'n sibbegroep wat so vir die volgende 6 maande bymekaarbly. Sodra die welpe twee jaar oud is, verlaat die wyfies die groep, terwyl die broers lewenslank saambly.

Jagluiperdwyfies vorm nie soos mannetjies koalisies nie. Hulle is enkellopers wat daartoe geneig is om mekaar te vermy, hoewel dit bekend is dat party ma-dogter-koalisies vir kort tydperke gevorm word. Die wyfies is alleen, behalwe wanneer hulle welpies grootmaak; die ma’s maak hul kleintjies alleen groot.

'n Jagluiperd kan moontlik 15 tot 20 jaar in gevangenskap oud word,[7] maar slegs tot 12 jaar in die natuur.

Grondgebied

[wysig | wysig bron]

Mannetjies

[wysig | wysig bron]
’n Jagluiperdmannetjie bemerk sy gebied

Die mannetjies is dikwels sosiaal. Hulle kan lewenslank saamgroepeer, gewoonlik met hul broers van dieselfde werpsel. Sou 'n welpie die enigste mannetjie van 'n werpsel wees, kan hy saam met een of twee ander enkellopende jagluiperds groepeer of in 'n reeds bestaande groep opgeneem word. Hierdie groepe staan bekend as koalisies. In een Serengeti natuurreservaat was daar onder die mannetjies 41% alleenlopers, 40% het in groepe van twee individue voorgekom en 19% het groepe van drie lede gevorm.[25]

'n Koalisie staan ses keer 'n beter kans as 'n alleenloper om grondgebied te bekom, hoewel navorsing toon dat koalisies net so lank soos enkellopendes hul grondgebied behou – tussen 4 en 4½ jaar.

Die mannetjies is territoriaal. Die wyfies se tuisgebiede kan baie groot wees en dit is 'n onmoontlike taak om 'n grondgebied wat al die wyfies se tuisgebied insluit te beskerm. In plaas daarvan kies die mannetjies 'n plek wat met etlike wyfies se tuisgebiede oorvleuel. Die grondgebied is wel kleiner, maar kan beter teen indringers verdedig word terwyl die geleentheid tot voortplanting ten volle benut kan word. Die koalisies sal alles in hul vermoë doen om die tuisgebiede te behou om sodoende wyfies te kry om mee te paar. Die grondgebied se grootte hang af van die beskikbare hulpbronne; die gebied kan, afhangend van Afrikastreek, tussen 37 tot 160 km² wissel.

Die mannetjies baken hul gebied af deur op duidelik sigbare voorwerpe te urineer, soos bome, stompe of termiethope. Die jagluiperdmannetjies staan 'n meter weg van die uitgesoekte boom of rotsoppervlak, lig die stert op, rig die penis horisontaal na agter of 60º opwaarts en urineer.[26] Die hele koalisie kan by die afbakening betrokke wees. Die mannetjies sal poog om enige indringer te dood en konfrontasies kan in ernstige beserings of die dood eindig.[27] In die Krugerwildtuin verdedig die bedeesde jagluiperd nie 'n territorium nie, maar merk tog 'n verkose gebied met urine.[7]

Wyfies

[wysig | wysig bron]
'n Jagluiperdwyfie met haar kleintjies by die Ngorongoro Bewarea
'n Jagluiperdwyfie in die private Wildplaas Phinda, KwaZulu-Natal, Suid-Afrika

Die wyfie baken nie soos die mannetjies of ander katsoorte gebiede af nie. Hulle bly eerder in wat genoem word 'n tuisgebied. Dit oorvleuel met ander wyfies se tuisgebiede, dikwels met dié van hul dogters, ma’s of susters. Die wyfies jag altyd op hul eie, hoewel die welpies hul ma tydens hul jagopleiding vergesel sodra hulle vyf or ses weke oud is.

Die grootte van die tuisgebied hang heeltemal af van die beskikbaarheid van geskikte prooi. Die jagluiperds se Suider-Afrikaanse tuisgebied in die bosveld kan 'n skamele 34 km² beslaan, terwyl die Namibiese tuisgebied tot 1 500 km² groot kan wees.

Geluide

[wysig | wysig bron]

Die jagluiperd kan nie brul nie, maar word onder die stemryker katsoorte ingedeel. Etlike bronne vermeld wel 'n groot verskeidenheid jagluiperdgeluide, maar gegewens ontbreek wat sodoende die kategorisering van hierdie geluide bemoeilik.

Party van die opgetekende geluide sluit in:

  • 'n Getjirp: Wanneer een jagluiperd 'n ander probeer opspoor, of 'n ma haar welpies soek, word 'n hoë blafgeluid gemaak wat soos 'n getjirp klink. Die getjirp van 'n jagluiperdwelpie klink nader aan die geluid van 'n voël s’n.
  • 'n Getjir of stottering: Hierdie geluid word tydens sosiale kontak geuiter. 'n Getjir kan dui op 'n uitnodiging aan ander jagluiperds, belangstelling, onsekerheid, bevrediging of kontak tydens ontmoeting met die teenoorgestelde geslag (hoewel elke geslag om verskeie redes tjir).
  • 'n Geknor of gegrom: Hierdie geluid gaan dikwels gepaard met 'n gesis en gespoeg tydens irritasie of wanneer die jagluiperd in gevaar verkeer.
  • 'n Gekerm: Dit is 'n hewiger weergawe van 'n geknor, gewoonlik geuiter sodra die gevaar vererger.
  • Strydlustige geluide: 'n Kombinasie van knorre, gekerm, gesis en die kenmerkende gespoeg, wat meestal gepaardgaan met 'n kragtige gekap van die poot op die grond.
  • 'n Gespin: Geuiter by tevredenheid, gewoonlik by aangename ontmoetings (meestal tussen welpies en hul ma’s). Hierdie geluid kan sowel tydens in- as uitaseming gemaak word.[28][29][30][31][32]

Dieet en jag

[wysig | wysig bron]
'n Jagluiperd verwurg 'n rooibok in die Timbavati-wildreservaat, Suid-Afrika

Die jagluiperd is 'n karnivoor wat meestal diere vreet met 'n massa minder as 40 kg. Voorbeelde sluit in Thomson se gasel, Grant se gasel, die springbok en die rooibok. Sy gunstelingprooidiere is gewoonlik wildsboksoorte van klein tot mediumgrootte soos steenbokkies en duikers. Vlakvarke, hase, tarentale (en ander grondvoëls) asook selfs ystervarke word heel dikwels platgetrek. In die Krugerwildtuin bestaan 70% van die jagluiperd se vangste uit rooibokke.[7]

Op die Oos-Afrikaanse vlaktes is die Thomsongasel die jagluiperd se gunstelingprooi. Jagluiperds verkies dikwels om kleiner prooi te vang wat stadiger as die katspesie beweeg. Die jagluiperd is op die uitkyk na afgedwaalde individue en nie noodwendig ou of siek prooidiere nie. Wanneer daar in groepe of koalisies gejag word kan die kalwers van groot soogdiere soos wildebeeste en sebras aangeval word – of die volwassenes self.

Die jagluiperds jag gedurende die dag, terwyl ander katsoorte dikwels snags jag. Hy jag gewoonlik vroegoggend of vroegaand wanneer dit nie so warm is nie, maar daar nog genoeg lig is. Elke nou en dan word ook tydens maanlignagte gejag.[7]

Die jagluiperd maak gedurende jagtogte eerder op sy sig- as sy reuksintuig staat. Die prooi word binne 'n afstand van 10 – 30 m bekruip en dan bestorm. Stormlope is selde meer as 250 tot 300 m.[7]Die stormloop duur gewoonlik minder as 'n minuut. Sou die jagluiperd nie daarin kon slaag om vinnig sy prooi te vang nie, sal hy die aftog moet blaas. Die sukses word bepaal eerstens deur die afstand tussen die jagluiperd en die prooidier tydens die aanvang van die stormloop en tweedens of die prooidier in hierdie tydperk reeds hardloop of stilstaan. As die prooi die jagluiperd betyds raaksien is dit waarskynlik dat die prooi sal wegkom. Sou die prooi egter salig onbewus wees en die jagluiperd reeds storm, is daar 'n gemiddelde jagslaagsyfer van omtrent 50%.[7][8]

Die stormlope teen ’n hoë spoed kan 'n jagluiperd vinnig uitput. Die liggaamstemperatuur verhoog vinnig tydens naellope. As die stormloop maar moeilik gaan, moet die jagluiperd soms vir meer as 'n halfuur lank rus.

Die prooi word gewoonlik van balans gebring deur struikeling. Die jagluiperd se valskloutjie haak aan die prooi se vel en word dan teruggeruk; 'n klap op die agterbeen, dy of rug kan die prooidier ook grond toe bring.[7]

Die jagluiperd is nie altyd sterk genoeg om die meeste van sy prooi se nekke te breek nie. Met sy tande kry die jagluiperd die onderkant van die keel beet en staan effens weg om uit die pad van die kappende hoewe te bly.

Die jagluiperd se bek is klein, die slagtande maar korterig en die kloue kan nie die prooi doeltreffend vasdruk nie.[7] Om die prooi te dood deur verwurging of 'n slagaar stukkend te byt kan tussen 5 tot 25 minute duur.[7] 'n Jagluiperd word maklik van sy prooi beroof deur groter roofdiere en moet daarom so vinnig moontlik aan die karkas begin vreet.[7]

Die jagluiperd se voedselbehoeftes en aantal vangste hang van die omgewing af waar hy bly, die hoeveelheid energie wat tydens jag verbruik word, die beskikbaarheid van prooidiere en die hoeveelheid mededingende roofdiere in dieselfde omgewing. Sy normale voedselbehoefte is waarskynlik een tot drie kilogram vleis per dag.[7]

Indien die jagluiperd slegs groot boksoorte, soos rooibokke, vang, sal hy so 30 of meer per jaar moet vang.[7] Kleiner boksoorte sal so ongeveer 150 prooidiere per jaar uitmaak.[7]

Gedrag teenoor roofdiere

[wysig | wysig bron]
'n Jagluiperd bestorm 'n Thomsongasel in die Ngorongorokrater, Tanzanië

Ten spyte van hul spoed en jagvermoë is jagluiperds grootliks onderworpe aan die ander groot roofdiere. Die jagluiperd het deur blitsige spoed oor kort afstande in 'n vlugdier ontwikkel en is nie opgewasse om hul teen die meeste van Afrika se roofdiere te verdedig nie. Leeus en luiperds gaan wel nie uit hul pad om jagluiperds te vang nie, maar laasgenoemde kan wel bekruip en skielik oorval word. Die hiëna kan weer met sy geweldige uithouvermoë 'n jagluiperd flou jaag.[7]

'n Jagluiperd sal enige vorm van konfrontasie probeer vermy en onmiddellik sy vangs afstaan (selfs aan 'n enkele hiëna) om nie beserings op te doen nie. Omrede jagluiperds op hul vlugvoetigheid staatmaak om hul voedsel te bekom, kan enige besering wat hul spoed verminder 'n lewensgevaar inhou.

'n Jagluiperd het 'n 50% kans om van sy vangs beroof te word.[8] 'n Jagluiperd probeer mededinging te vermy deur op verskillende tye as ander roofdiere te jag en onmiddellik ná 'n suksesvolle vangs weg te val. Deur habitatsverlies en die gevolglike inkrimping van grondgebied word die jagluiperds deesdae onder groter druk van ander roofdiere geplaas.

Ongeveer die helfte van alle jagluiperdwelpies word gedood gedurende die eerste paar maande van hul lewe. Die roofvyande is dan leeus, luiperds, hiënas, wildehonde en selfs arende. 'n Jagluiperdwelpie moet dikwels in digte bosse wegkruip. Jagluiperdwyfies sal hul welpies probeer beskerm en soms ook daarin slaag om die roofvyande te verdryf. Die koalisie jagluiperdmannetjies kan, ook afhangend van hul getal en die vyand se grootte, die roofvyand die hasepad laat kies.

Oor die algemeen het 'n gesonde, volwasse jagluiperd min roofvyande.[33][7]

Fotogalery

[wysig | wysig bron]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Bauer, H., Belbachir, F., Durant, S., Hunter, L., Marker, L., Packer, K. & Purchase, N. (2008). Acinonyx jubatus. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 9 Oktober 2008.
  2. (en) Sharp, N.C. (1994). "Timed running speed of a cheetah (Acinonyx jubatus)". Journal of Zoology, London. 241: 493–494.
  3. (en) Milton Hildebrand (1959). "Motions of Cheetah and Horse". Journal of Mammalogy. Besoek op 30 Oktober 2007. Volgens Cheetah deur Luke Hunter en Dave Hamman, (Struik Uitgewers, 2003), bl. 37–38, is die jagluiperd se vinnigste gemete spoed 110 km/h (68 m.p.u.).
  4. (en) Kruszelnicki, Karl S. (1999). "Fake Flies and Cheating Cheetahs". Australian Broadcasting Corporation. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2019. Besoek op 7 Desember 2007.
  5. (en) Garland, T., Jr. (1983). "The relation between maximal running speed and body mass in terrestrial mammals" (PDF). Journal of Zoology, London. 199: 155–170. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 31 Augustus 2018. Besoek op 27 Oktober 2009.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  6. (en) http://www.cheetah.org/?nd=cheetah_facts
  7. 7,00 7,01 7,02 7,03 7,04 7,05 7,06 7,07 7,08 7,09 7,10 7,11 7,12 7,13 7,14 7,15 7,16 7,17 7,18 7,19 7,20 7,21 7,22 7,23 7,24 7,25 7,26 7,27 7,28 7,29 7,30 (af) P. F. Fourie: Nasionale Krugerwildtuin: Vrae en antwoorde. SA Country Life 1983, ISBN 0-620-06898-1, bl. 236–245.
  8. 8,0 8,1 8,2 8,3 (en) O'Brien, S., D. Wildt, M. Bush (1986). "The Cheetah in Genetic Peril". Scientific American. 254: 68–76.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  9. (en) Young, T.P. and A.H. Harcourt (1997). "Viva Caughley!". Conservation Biology. 11: 831–832.
  10. (en) Johnson, W. E., E. Eizirik, J. Pecon-Slattery, W. J. Murphy, A. Antunes, E. Teeling, S. J. O'Brien (2006). "The Late Miocene Radiation of Modern Felidae: A Genetic Assessment". Science. 311 (5757): 73–77. doi:10.1126/science.1122277. PMID 16400146.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  11. 11,0 11,1 (en) Mattern, M. Y., D. A. McLennan (2000). "Phylogeny and Speciation of Felids". Cladistics. 16 (2): 232–253. doi:10.1111/j.1096-0031.2000.tb00354.x.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  12. (en) [1] (2011).
  13. (en) Boitani, Luigi, Simon & Schuster's Guide to Mammals. Simon & Schuster/Touchstone Books (1984), ISBN 978-0-671-42805-1
  14. (en) [2] (2011).
  15. (en) Burnie D and Wilson DE (Eds.), Animal: The Definitive Visual Guide to the World's Wildlife. DK Adult (2005), ISBN 0-7894-7764-5
  16. (en) [3]
  17. (en) "Dogs used to calm skittish cheetahs". DailyHerald.com. 16 Februarie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 30 Maart 2013.
  18. Vandag heel waarskynlik in die Limpopoprovinsie.
  19. Algemeen bekend as die “haarskag”
  20. (en) "The lesser-spotted cheetah: Rare big cat without traditional markings sighted in wild for first time in nearly 100 years". Daily Mail. 25 April 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2017. Besoek op 6 Maart 2013.
  21. (en) "Asiatic Cheetah". Wild About Cats. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 September 2017. Besoek op 7 Desember 2007.
  22. (en) "Asiatic Cheetah". WWF-Pakistan. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2012. Besoek op 7 Desember 2007.
  23. (en) "Scandal on the Serengeti: New light has been shed on the extent of female cheetahs' unfaithfulness to their male partners". inthenews.co.uk. 30 Mei 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2007. Besoek op 7 Desember 2007.
  24. (en) Eaton, Randall L. (1976) A Possible Case of Mimicry in Larger Mammals. Evolution 30(4):853-856 doi 10.2307/2407827
  25. (en) Richard Estes, foreword by Edward Osborne Wilson (1991) The Behavior Guide to African Mammals. University of California Press. bl. 371.
  26. (en) T. M. Caro (15 Augustus 1994). Cheetahs of the Serengeti Plains: Group Living in an Asocial Species. University of Chicago Press. pp. 203–. ISBN 978-0-226-09433-5. Besoek op 21 Maart 2013.
  27. (en) MacMillan, Dianne. "Cheetahs". Books.google.com. Besoek op 30 Maart 2013.
  28. (en) Robert Eklund. "Robert Eklund's Ingressive Phonation and Speech Page". Ingressivespeech.info. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 September 2019. Besoek op 30 Maart 2013.
  29. (en) Robert Eklund. "Robert Eklund's Homepage". Roberteklund.info. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Julie 2017. Besoek op 30 Maart 2013.
  30. (en) Robert Eklund. "– The felid purring site". Purring.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 September 2019. Besoek op 30 Maart 2013.
  31. (en) Robert Eklund. "Eklund, Peters & Duthie (2010)" (PDF). Roberteklund.info. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2019. Besoek op 30 Maart 2013.
  32. (en) Robert Eklund. "Eklund, Peters, Weise & Munro (2012)" (PDF). Roberteklund.info. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 28 Januarie 2017. Besoek op 30 Maart 2013.
  33. (en) M. W. Hayward, M. Hofmeyr, J. O'Brien & G. I. H. Kerley (2006). "Prey preferences of the cheetah (Acinonyx jubatus) (Felidae: Carnivora): morphological limitations or the need to capture rapidly consumable prey before kleptoparasites arrive?". Journal of Zoology. 270 (4): 615. doi:10.1111/j.1469-7998.2006.00184.x. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 April 2020. Besoek op 5 Oktober 2008.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)

Verdere leeswerk

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.