Gaan na inhoud

Osborne House

Koördinate: 50°45′2″N 1°16′11″W / 50.75056°N 1.26972°W / 50.75056; -1.26972
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die noordfasade van Osborne House.

Osborne House is ’n voormalige koninklike woning in East Cowes op Wight-eiland, Verenigde Koninkryk. Die huis is tussen 1845 en 1851 vir koningin Victoria en prins Albert gebou as ’n somerhuis op die platteland.

Prins Albert het self die huis ontwerp in die styl van ’n Italiaanse Renaissance-palazzo. Die bouer was Thomas Cubitt,[1] die Londense argitek wat ook die hooffasade van Buckingham-paleis in 1847 vir die egpaar gebou het. ’n Vroeëre, kleiner huis is gesloop vir die bou van die nuwe huis.

Koningin Victoria is in Januarie 1901 in Osborne House oorlede. Daarna is die huis aan die staat gegee, behalwe ’n paar kamers wat gedien het as ’n privaat koninklike museum wat aan koningin Victoria gewy is. Van 1903 tot 1921 is die huis gebruik as ’n opleidingskollege vir junior offisiere van die Britse Vloot. Dit is vandag heeltemal oop vir die publiek.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die ingangsfasade.

Koningin Victoria en prins Albert het die oorspronklike Osborne House in Oktober 1845 gekoop as ’n plek om weg te kom van die stres van die hoflewe. Dit was egter gou te klein vir hul persoonlike behoeftes en hulle het besluit om ’n nuwe huis te laat bou.[1]

Die nuwe huis is gebou in die styl van die Italiaanse Renaissance, kompleet met twee uitkyktorings. Die geld wat gemaak is met die verkoop van die Royal Pavilion in Brighton is vir ’n groot deel van die meubels en versierings gebruik.[2]

Die huis bestaan uit die oorspronklike vierkantige vleuel, bekend as "The Pavilion", wat die hoof- en koninklike kamers insluit. Hulle bevat herinneringe aan die koningin se dinastiese bande met ander Europese koningshuise. In die biljartkamer staan ’n yslike porseleinvaas, ’n geskenk van die Russiese tsaar. Die luuksheid van dié kamer en die koningin se eet- en sitkamer op die grondverdieping is in kontras met die heelwat eenvoudiger en huisliker dekor van die koninklike kamers op die eerste verdieping. Dié deel sluit die prins se kleedkamer, die koningin se sit- en slaapkamer en die kinders se kamers in. Die koninklike egpaar wou hul kinders so normaal en liefdevol as moontlik grootmaak en hulle is in hul ouers se slaapkamers toegelaat, terwyl ander kinders in ’n soortgelyke situasie normaalweg op ’n groter afstand gehou is.[3]

Prins Albert se kleedkamer (1851, waterverf deur James Roberts).

Die hoofvleuel, met die kamers vir die huishouding en die raads- en ontvangskamers, is later aangebou. Die laaste toevoeging was ’n vleuel wat tussen 1890 en 1891 gebou is en die bekende Durbar-kamer bevat ("durbar" is ’n Engelse vorm van die Hindi-woord vir "hof"). Die Durbar-kamer is gebou vir staatsfunksies en is in ’n uitspattige styl versier. Dit bevat nou geskenke wat koningin Victoria op haar goue en diamantjubileum ontvang het; dit sluit in silwer- en kopervase met insnywerk, Indiese wapenrusting en selfs ’n model van ’n Indiese paleis.[4] Die eerste verdieping van dié vleuel was vir die uitsluitlike gebruik van prinses Beatrice en haar gesin. Sy was die koningin se jongste dogter en het permanent aan Victoria se sy gebly.

Die verbintenis met Indië is verder gevoer met skilderye van Indiese mense en tonele wat op die koningin se versoek deur Rudolf Swoboda geskilder is. Van die tonele is in Indië self geskilder nadat Swoboda die land vir dié doel besoek het.[5]

John Brown en koningin Victoria by Osborne House, 1870.
John Brown 1826–1883 (’n gedenkbank by Osborne House).

Die koninklike egpaar het ’n paar keer per jaar in Osborne House gebly: in die lente vir haar verjaardag in Mei; in Julie en Augustus vir sy verjaardag; en net voor Kersfees.[1] Anders as in die verlede het hulle fotograwe en skilders toegelaat om hul gesin op beeld vas te lê, enersyds vir hul eie genot en andersyds om vir die volk te wys wat ’n gelukkige gesin hulle is. Duisende afdrukke van die gesin is aan die publiek verkoop en dit het die koningin laat opmerk: "Geen heerser was al ooit so gewild soos ek nie (al moet ek dit self sê)."[6] In ’n brief aan haar oudste dogter, prinses Victoria, skryf sy in 1858 oor die somberheid van Windsor-kasteel en voeg by: "Ek verlang na die vrolike en onpaleisagtige kamers by Osborne."[7]

Ná prins Albert se dood in Desember 1861 het die huis een van die koningin se mees geliefde wonings gebly.

Osborne vandag

[wysig | wysig bron]
Die voormalige krieketpaviljoen, nou ’n vakansiehuis.

Osborne House word vandag deur die organisasie English Heritage versorg en is oop vir die publiek. Die voormalige vlootkollege se krieketpaviljoen is in 2004 in ’n vakansiehuis omskep en kan deur lede van die publiek bespreek word. Gaste kan die Osborne-landgoed se privaat strand gebruik.

Sedert 2005 word konserte in ’n piekniekstyl gehou op die grasperke buite die hoofhuis.[8][9]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 Struthers, bl. 36
  2. The Royal Palaces of Britain by John Adair, bl. 31
  3. Royal Palaces of Britain, bl. 38
  4. Royal Palaces of Britain, bl. 39
  5. "Calendars and diaries" (in Engels). National Gallery. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2007. Besoek op 17 Augustus 2014.
  6. Royal Palaces of Britain, bl. 37
  7. The Royal Palaces of Britain, bl. 36
  8. "Big name gigs for Osborne" (in Engels). Isle of Wight County Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Maart 2016. Besoek op 16 Junie 2009.
  9. "Top acts to play historic house" (in Engels). Isle of Wight County Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Maart 2016. Besoek op 5 Julie 2009.

Boeke en artikels

[wysig | wysig bron]
  • Adair, John (1981). The Royal Palaces of Britain. Londen: Thames and Hudson. ISBN.
  • Struthers, Jane (2004). Royal Palaces of Britain. Londen: New Holland Publishers (UK) Ltd. ISBN 1-84330-733-2.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

50°45′2″N 1°16′11″W / 50.75056°N 1.26972°W / 50.75056; -1.26972