Gaan na inhoud

Ouddorp

Koördinate: 51°48′00″N 3°56′00″O / 51.80000°N 3.93333°O / 51.80000; 3.93333
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Ouddorp
Dorp
'n Tipiese Ouddorpse landskap met die vuurtoring op die agtergrond.
'n Tipiese Ouddorpse landskap met die vuurtoring op die agtergrond.
Ligging van Ouddorp in Goeree-Overflakkee
Ligging van Ouddorp in Goeree-Overflakkee
Koördinate: 51°48′00″N 3°56′00″O / 51.80000°N 3.93333°O / 51.80000; 3.93333
LandVlag van Nederland Nederland
Provinsie Zuid-Holland
Munisipaliteit Goeree-Overflakkee
Bevolking
 • Totaal6 047

Ouddorp (Seeus: Ouwdurp) is 'n dorp in die Nederlandse munisipaliteit Goeree-Overflakkee in die provinsie Zuid-Holland. Die vissers- en toeristedorp het 'n bevolking van sowat 6 000 (2009). Wessel Pretorius, 'n voorvader van Marthinus Wessel Pretorius was hier predikant vanaf 1639 tot 1653.

Ouddorp se vernaamste bron van inkomste was in vorige jare vissery, maar toerisme is nou die grootste ekonomiese bydraer. Die aard van die omgewing, die mooi strande en die skilderagtige bosryke areas trek mense van oraloor, en het ook tot 'n aansienlike styging in eiendomspryse oor die afgelope jare gelei.

Oor die oorsprong van die naam is daar nie veel met sekerheid bekend nie. Een van die teorieë is dat die dorp sy naam ontleen het aan Adriaan Ouddorp, wie die dorp sou gestig het. 'n Ander teorie het dit weer dat die dorp sy naam te danke het aan die polder Diepehorst, wat as die oude polder bekend gestaan het, en dat die dorp dan aanvanklik Oude Dorp en daarna Ouddorp geheet het.

Hoe dit ook al sy, argeologiese opgrawings het getoon dat die dorpie reeds in Romeinse tye bewoon was.

Geskiedenis van die Hervormde kerk

[wysig | wysig bron]
Die dorpskerk van Ouddorp in 1903.

Amptelik is die aanvanklike kerkgebou wat aan St Maarten toegewy was, in 1348 opgerig. Die parochie was toentertyd deur 'n kapelaan sowel as 'n pastoor bedien, terwyl die nabygeleë Goedereede slegs 'n kapelaan had. In 1450 word Goedereede met De Oude Oosdijk tot 'n afsonderlike parochie verhef.

Daar is aanvanklik gemeen dat die kerktoring ook in dieselfde tyd gebou is, maar ondersoeke het getoon dat die materiaal wat gebruik is baie ouer blyk te wees en dat daar moontlik reeds al in 900 'n kerkgebou in Ouddorp was. Ons weet wel dat daar reeds in 1100 'n som geld deur die “Heer van de Klepperstee” vir 'n kerk en toring beskikbaar gemaak is. Dit wil dus voorkom of die oprigting van die kerkgebou in 1348 eerder 'n heropbou van 'n vorige kerk was.

Die kerkgebou het ook maar sy goeie en slegte tye ondervind. In ongeveer 1490 het die inwoners van Brederoode aanvalle teen Ouddorp en Goedereede geloods. Aangesien Goedereede baie beter versterk was het die aanvallers hul aandag op Ouddorp toegespits. Groot gedeeltes van die kerk is verwoes en die toring is ook deels afgebreek.

Die kerkklok is in die middeleeue ernstig beskadig en is eers in die 1640’s oorgegiet. (Die klok is ook in 1942 deur die Duitse weermag geroof om gesmelt te word. Gelukkig het die skip wat die klok na die smeltery vervoer het, in die IJsselmeer gesink nadat dit gesaboteer is, en die klok is na die oorlog teruggebring na Ouddorp). Meer oor hierdie klok 'n bietjie later.

Die een vlak van die toring is ook gebruik as 'n tronksel, waarin aanvanklik slegs ernstige oortreders maar later ook minder gevaarlike misdadigers opgesluit is.

Vanweë “de sterken aanwas der Gemeente van Ouddorp … die de Gereformeerd godsdienst toegedaan…” word in 1734 oorgegaan tot die verbouing van hoofsaaklik die binnekant van die kerk. Die preekstoel en “kerkraadstuijn” word vervang, die middelmuur word verwyder, die galery vergroot en die konsistorie verskuif na onder die galery. Die State van Holland en Wes Friesland het – ten einde hierdie verbouing te finansier – o.a. die reg verleen om vir 20 jaar 'n belasting op wyn, bier en brandewyn te hef – 'n baie vroeë voorbeeld van “vice tax”!

Aanvanklik was die toring en die kerkgebou aanmekaar, maar ten tye van hierdie renovasies was hulle reeds van mekaar geskei.

Teen die einde van die 1700’s het die kerkgebou die agteruitgang van die vorige twee eeue getoon, en is daar in 1790 besluit om met die herstel en vernuwing van die gebou te begin. Nie alleen die stadsowerhede nie maar ook die publiek het ingegryp en die fondse beskikbaar gestel vir die opknapping van die gebou, binne sowel as buite. (Van die meer vername mense in die gemeente het betaal om sekere sitplekke in die kerk te bekom vir 'n tydperk van 10 jaar!) Tydens die restourasieproses wat in 1791 afgehandel is, is baie van die Roomse karakter van die kerk verwyder terwyl die grafkelder en verskeie familiewapens ook herstel is. Die toewydingsdiens het op 14 Augustus 1791 plaasgevind. Die predikant “.. het wel. Eerw. heer Gersen..” lewer sy wydingspreek oor Haggai 2 vers 10.

Aan die einde van die 1800’s en begin 1900’s, terwyl die Anglo-Boere-oorlog in SA woed, word die kerk weereens aansienlik verander. In 'n artikel in Bulletin in 1902, skryf Overvoorde: De toename van het ledental, die uit oogpunt van de kerklijke gemeente met vreugde werdt begroet, blijkt en bleek dikwijls voor het kergebouw zelf minder gelukkig te zijn, daar hierdoor verbouwingen noodzaakelijk worden, die nadeelig kunnen zijn voor het bouwwerk. Thans wordt hierdoor het kerkje te Ouddorp op Goeree bedreigd…

Die Ryksargitek Adolph Mulder het voorgestel dat die kerk uitgebou word om weer tot teen die toring te strek, en wel op die ou fondasies. Dit sou die gebou verstewig en sou sonder om afbreuk te doen aan die integriteit, die nodige addisionele spasie binne die kerk lewer. Die kerkraad het egter hierteen beswaar gemaak. Die kerk is totaal herontwerp.

Predikante van die Hervormde gemeente Ouddorp na die Reformasie

[wysig | wysig bron]

Wanneer daar met die verkondiging van die evangelie op die eiland begin is, is onduidelik, hoewel sendelinge reeds van vroeg daar diens gedoen het. Na die Hervorming, en waarskynlik kort na die inname van Den Briel in 1572, het die eerste twee predikante – Adriaan Allardi Janssen en Adrianus Johannis – na Goedereede gekom, vanwaar hulle ook die inwoners van Ouddorp bedien het. Daar was egter ontevredenheid oor die mate van bediening wat in Ouddorp ontvang is en in 1592 word 'n versoek tot die Klassis van Briel gerig dat Ouddorp as 'n aparte gemeente gestig en 'n eie predikant toegeken word. Die Klassis kon egter nie tot 'n besluit kom nie.

Teen 1594 wou die Ouddorpers nie langer wag en begin rondkyk vir 'n predikant om te beroep. Hul aanvanklike besluit was om ds. Van Bommenede te beroep, maar hiervoor wou die Klassis nie toestemming gee nie. Hierna val die gemeentelike oog op ’n onderwyser van Poortvliet, Jacobus Cornet. Na 'n proefpreek op voor die Klassis oor Lukas 1:9, word Conet uitgenooi om na Ouddorp te kom – sodat hy die te-stigte-gemeente kon ondersoek (en hulle hom!) Dit moes 'n voorspoedige besoek gewees het, want toestemming word deur die Klassis verleen en in 1594 verkry Ouddorp gemeentestatus. Cornet word in Mei 1595 as eerste predikant van die gemeente Ouddorp bevestig.

Soos genoem was stamvader Johannes Pretorius se vader Wessel predikant in Ouddorp, en wel die sesde predikant wat na die Reformasie hier aangestel is.

Die Notuleboek van die Hervormde Kerk se Klassis Briele lewer 'n paar interessanthede op. Op 3 April 1639 tydens 'n vergadering gehou te Heenvliet, versoek twee ouderlinge van Ouddorp toestemming om Ds Wessel Praetorius na Ouddorp te beroep. Hierdie versoek is klaarblyklik toegestaan, want op 28 Junie 1639 lewer Wessel 'n proefpreek oor Romeine 8:1 tydens 'n klassisvergadering te Nieuwe-Tonge, ter vervulling van die vereistes sy finale teologiese eksamen. Die beroep word uitgereik en in laat-1639 aanvaar. Vir ongeveer veertien jaar bedien Wessel hierdie gemeente voor hy in 1653 'n beroep na Emmerik aanvaar. Gedurende hierdie tydperk het hy onder andere ook as voorsitter van die klassis opgetree. In een van die notuleboeke gedateer 26 September 1651 verskyn sy handtekening as volg:

Die jong predikant tree op 16 Junie 1641 te Haarlem in die huwelik met Josyntje Claesdogter van Egmont. Die inskrywing in die Haarlemse huweliksregister lui as volg: Wesselius Pretorius van Leiden – predikant tot Ouddorp en Josyntgen Claesdr. van Egmont van Leiden woon aldaer – sijn op attestatie van Ouddorp en de Leiden alhier getrouwd den 18e Juni 1641.

Johannes, die oudste seun, is hier in Ouddorp in die pastorie gebore. Op 26 Oktober 1642 word Johannes deur sy vader gedoop. Die inskrywing in die doopregister lees as volg:

Den 26 October (1642) Van my gedoopt myn eerstgeboren soon, en hebbe die genaemt Joannes. Getuigen sijn geweest mijn vader Barent Schout, mij swager Laurentius Nicolay van Egmont en meutie Geertruijt Reiniersdr. huisvrouwe van Cornelius Low [Cornelis Louritz van Egmont]

Hierbo is genoem van die kerkklok wat erg beskadig is en in 1642 oorgegiet is. Johannes Burgerhuys het die werk aan die klok verrig, en die inskripsie daarop lees:

  • Soli Deo Gloria
  • Johannes Burgerhuis me fecit
  • Anno Domini 1642
  • Deur Koud en Breuk onnut gemaeckt
  • Door’t Vier en Lief’d aan stem geraeckt
  • T’Ouddorp in Westvoorn

Volgens oorlewering is hierdie klok in gebruik geneem op die dag van Johannes se doop.

Die afgelope vier eeue was daar bitter weinig tye dat die gemeente nie deur 'n dominee bedien is nie, soos blyk uit die onderstaande tabel. Hierdie bediening het 'n groot invloed op die dorp, sy inwoners en die omstreke gehad, en tydens my besoek het ek onder die besef gekom van hoe kerkvas die mense van Ouddorp vandag steeds is (daar is tans ses kerke vir die sowat 6200 inwoners).

  • 1595–1597 Jacobus Cornet
  • 1597–1619 Cornelius Dammanus
  • 1620–1622 Nicolaas Russius
  • 1622–1632 Livinius Stamperius
  • 1633–1639 Daniël Rady
  • 1639–1653 Wesselius Pretorius
  • 1653–1681 Jozef Rousse
  • 1681–1720 Hendrik van Ulft
  • 1721–1747 Johannes van Leeuwen
  • 1748–1757 Jacobus Schelvisvanger
  • 1757–1770 Daniël van den Hoek
  • 1770–1776 Johannes Adrianus Du Blois
  • 1777–1808 Michiel Gersen
  • 1808–1817 Samuël La Lau
  • 1818–1864 Aalt Gerrit van Dijkhuizen
  • 1865–1867 Hendrik Bax
  • 1869–1872 Jan Felix Franc Van de Hamme
  • 1873–1881 Hendrik Jacobus Den Boer
  • 1882–1889 Johan Louis Tichelaar
  • 1891–1896 Dooitze Tako’sn Meinsma
  • 1898–1900 Yme Doornveld
  • 1901–1907 Jan Bos
  • 1909–1918 Arie van der Kooij
  • 1919–1924 Jan Bus
  • 1930–1933 Hendrik Hubertus Van Ameide
  • 1935–1946 Jan Hovius
  • 1947–1958 Roeland Willem Steur
  • 1960–1967 Jan van Vliet
  • 1970–1978 Sijmen de Jong
  • 1979–1989 Willem Jan op 't Hof
  • 1980–1987 Gijsbert Meuleman
  • 1988–1992 Dirk Heemskerk
  • 1990–2003 Rudolf Veldman
  • 1994–2006 Jan Glastra van Loon
  • 2012-2019 Cornelis van den Berg

Hersteld Hervormde Gemeente (ontstaan in 2004)

  • 2005–2010 Harm Lassche
  • 2011-2019 Dirk Zoet

Van Ouddorp na Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Johannes Pretorius (Joannes Praetorius) word op 26 Oktober 1642 te Ouddorp deur sy pa gedoop. In 1653 verhuis die gesin na Emmerik (op die grens van wat vandag Duitsland en Nederland is) nadat Wessel daarheen beroep is. Op 16 Julie 1653 word Johannes ingeskryf by die Latynse Skool van die Gereformeerde Kerk te Emmerik, en in 1661 word hy tot die Leidse universiteit toegelaat waar hy in die teologie studeer. Hy word egter in Desember 1663 geskors omdat hy – na bewering – deel was van die student-oproeringe op die kampus.

Na hierdie ongelukkige fase in sy lewe besluit Johannes om na die Ooste te vaar, en sluit hy hom aan by die VOC (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie). Op 17 Desember 1665 vertrek die skip Nuissenburg (soms ook na verwys as Nuijtssenburgh) vanaf Texel met bestemming Batavia via die Kaap, met Johannes aan boord as soldaat. Na ’n reis van sowat drie-en-‘n-half maande kom die stamvader van die Suid-Afrikaanse Pretoriusfamilie op 1 April 1666 by die Kaap aan.

Die volgende inskrywing kom op 5 Maart 1670 in die Resolusies van die Politieke Raad voor:

Joannes Pratorius van Goerhee als soldaet a ƒ10 per mt. met de fluijt nuijtssenburgh anno '66 hier aangelant.

Hy sou egter nie lank aan die Kaap vertoef nie, en vertrek reeds op 27 Junie 1666 aan boord die Hooch Caspel na die eiland Mauritius, waar hy vir 'n paar jaar as sekunde en sieketrooster diens sou doen. Laasgenoemde maatskaplike taak is waarskynlik aan hom toegeken as gevolg van sy (onderbroke) teologiese universiteitsopleiding en natuurlik ook sy agtergrond as predikantseun.

Inwonerstal

[wysig | wysig bron]

Die ontwikkeling van die inwonertal deur die jare heen word hieronder weergegee:

  • 1747 – 1 286
  • 1815 – 1 796
  • 1840 – 2 469
  • 1895 – 2 724
  • 1940 – 3 705
  • 1966 – 4 322
  • 1997 – 5 790
  • 2009 – 6 047

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]