Gaan na inhoud

Peter Ustinov

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sir Peter Ustinov
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Peter Ustinov in 1983

Geboortenaam Peter Alexander Baron von Ustinow
Geboorte 16 April 1921
Londen, Verenigde Koninkryk
Sterfte 29 Maart 2004
Genève Switserland
Nasionaliteit Brits
Beroep(e) Akteur, skrywer en dramatikus
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Sir Peter Alexander baron von Ustinov (Londen, Verenigde Koninkryk; 16 April 1921Genève Switserland; 29 Maart 2004) was 'n Britse akteur, skrywer en dramatikus.

Biografie

[wysig | wysig bron]
Peter Ustinov
as Nero in Quo Vadis (1951)
in The Sundowners (1960)

Ustinov is gebore as kind van 'n Russies-Duitse vader en 'n Franse moeder. Hy begin sy studies by die Westminster School (1934-1937) en studeer daarna by die London Theatre Studio (1937-1939) [1]

Hy maak sy debuut as toneelspeler in 1938 en maak gou naam as 'n akteur. Na sy militêre diens gedurende die Tweede Wêreldoorlog brei hy sy werksaamhede verder uit en begin skryf; sy eerste sukses op hierdie gebied kom in 1951 met The Love of Four Colonels. Sy loopbaan as dramatikus verloop parallel met sy akteurswerk -- sy bekendste werk was Romanoff and Juliet in 1956.

Van sy bekendste filmrolle sluit in Captain Vere in Billy Budd (1962), Lentulus Batiatus in Spartacus (1960); hy vertolk ook die rol van Hercule Poirot, "master detective", in die gelyknamige filmreeks (6 rolprente) gebaseer op die boeke van Agatha Christie. Die eerste hiervan is Death on the Nile (1978). Sy outobiografie Dear Me in 1977 is ook goed ontvang.

Daarnaas doen Ustinov ook "stemme". Hy is die stem van Prins Johnn in die Walt Disney-film Robin Hood. Hy is ook ingespan as stem vir Doctor Snuggles.

Gedurende sy loopbaan kry hy twee Oscars vir beste manlike byrol, een in 1961 vir sy rol in Spartacus en een vier jaar later vir sy rol in Topkapi. Hy word ook twee keer genomineer vir die byrol van Keiser Nero in Quo Vadis en vir die draaiboek van die film Hot Milions in 1968. [2]

Miklós Rózsa, 'n komponis en vriend, het sy String Quartet no 1, Op. 22 (1950) aan Ustinov opgedra.

Ustinov praat vloeiend Engels, Frans, Duits, Italiaans, Russies en Spaans. Daarnaas kon hy ook Turks en moderne Grieks praat. Hy het selfs enkele Nederlandse woorde gebruik met verskynings op Nederlandse televisie.

Hy word in 1990 deur Koningin Elizabeth II tot ridder geslaan.

Die graf in 2024.

In 2002 gaan Sir Peter Ustinov op 'n UNICEF-missie na Berlyn om vir die eerste keer na die sirkel van verenigde vriendskapsbere (United Buddy Bears) te kyk. Die vriendskapsbere is 'n simbool vir 'n vreedsamer wêreld tussen nasies, kulture en gelowe. Hy was vasbeslote om te verseker dat Irak ook verteenwoordig sou word in hierdie sirkel van sowat 140 lande. In 2003 open hy (as die beskermheer) die tweede uitstalling van vriendskapsbere in Berlyn.

Ustinov het sy laaste rusplek by die begraafplaas van Bursins in die Switserse kanton Vaud gevind. Sy grafplaat dra 'n kruis - ondanks sy selfidentifikasie as 'n sekulêre humanis - en die inskripsie:

« SIR PETER USTINOV

1921-2004

Writer-Actor-Humanist

Musicien-Membre de l'Institut »

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. International Dictionary of Films and Filmmakers, Volume 3: Actors and Actresses, 4th ed. St. James Press, 2000.
  2. "Peter Ustinov." Newsmakers, Issue 3. Thomson Gale, 2005

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]