Gaan na inhoud

Konstantyn II van Griekeland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Konstantyn II

Periode 6 Maart 19641 Junie 1973
Voorganger Paul
Opvolger Monargie afgeskaf
Huis Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg
Vrou Prinses Anne-Marie van Denemarke
Kinders Alexia
Kroonprins Pavlos
Nikolaos
Theodora
Philippos
Vader Paul
Moeder Prinses Frederika van Hannover
Gebore 2 Junie 1940, Athene
Oorlede 10 Januarie 2023, Athene

Konstantyn II (Grieks: Κωνσταντῖνος Βʹ, Βασιλεὺς τῶν Ἑλλήνων, Konstantínos Βʹ, Vasiléfs ton Ellínon; 2 Junie 1940 – 10 Januarie 2023) was koning van Griekeland van 1964 tot met die afskaffing van die monargie in 1973. Hy was die sesde en laaste monarg van die Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg en daar is gewoonlik in Grieks na hom verwys as ο τέως βασιλιάς ("die voormalige koning").

As ’n manlike afstammeling van koning Christiaan IX van Denemarke het hy sy titel prins van Denemarke behou, hoewel die Griekse tak van die Deense troonopvolging uitgesluit is.

Vroeë jare

[wysig | wysig bron]

Konstantyn is in Athene gebore as broerskind van koning George II en die oudste seun en erfgenaam van die koning se broer, kroonprins Paul. Sy ma was kroonprinses Frederika, die voormalige prinses Frederika van Hannover.[1] Sy ouer suster is Sofia, die huidige koningin-gemalin van Spanje, en sy jongste suster, prinses Irene, is ongetroud.

Hy was ’n jaar oud toe sy familie in bannelingskap gaan woon het in Egipte en Kaapstad, Suid-Afrika (waar sy jongste suster gebore is). In 1946 het hulle na Griekeland teruggekeer. Koning George is in 1947 dood, waarna Konstantyn se pa koning Paul en hy kroonprins geword het.

Op 18 September 1964 is hy in Athene getroud met prinses Anne-Marie van Denemarke, suster van die huidige Deense koningin, Margrethe II.

Bewind

[wysig | wysig bron]

Konstantyn het sy pa, Paul, in Maart 1964 opgevolg. Hoewel sy troonbestyging aanvanklik gunstig bejeën is, het sy bewind gou omstrede geraak. Sy ongewildheid het bygedra tot die politieke onstabiliteit wat gelei het tot die militêre staatsgreep van 21 April 1967. Die staatsgreep het nie veel regsgronde gehad nie totdat Konstantyn, as staatshoof, die militêre regering beëdig en dit so gewettig het. Dié stap is erg gekritiseer en op 13 Desember 1967 was hy verplig om uit die land te vlug ná ’n mislukte teenstaatsgreep. Hy het egter die de jure-staatshoof gebly tot 1 Junie 1973, toe die regering die monargie afgeskaf en Griekeland tot ’n republiek verklaar het.

Konstantyn het nooit amptelik geabdikeer nie. Hy het nog die titel "koning Konstantyn" gebruik, waarop hy volgens internasionale protokol aanspraak gemaak het, maar nie meer "koning van die Hellene" nie. Sy titel is egter nie deur Griekeland erken nie. In 1994 is hy kragtens ’n nuwe wet van sy Griekse burgerskap ontneem. Hy kon ook nie ’n Griekse paspoort kry voordat hy ’n van aangeneem het nie, wat hy geweier het om te doen.

Hy is dikwels in die Griekse pers gespot omdat hy homself koning Konstantyn genoem het. Van die byname wat vir hom gebruik is, is ο Τέως ("die voormalige", ’n term wat vir enige amptenaar gebruik word), "mnr. Glücksburg" en "Kokos", ’n onvleiende verkleiningsvorm van die naam Konstantyn. Hy is ook soms "Konstantyn die Kleine" genoem in teenstelling met die Romeinse keiser Konstantyn die Grote.

Hy en sy vrou het sedert 1967 in Londen gewoon, maar hy kon sy geboorteland weer vrylik besoek en het selfs ’n stuk grond en huis buite Athene gehad. Hy is op 10 Januarie 2023 in Athene oorlede.

Kinders

[wysig | wysig bron]

Konstantyn en Anne-Marie het vyf kinders gehad:

  • Prinses Alexia
  • Kroonprins Pavlos
  • Prins Nikolaos
  • Prinses Theodora
  • Prins Philippos

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Curley, W.J.P. (1975). Monarchs In Waiting. Londen: Hutchinson & Co Ltd. pp. 39–41. ISBN 0-09-122310-5.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]